<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Wind en hael saai verwoesting op plase

 
Na ‘n hele dag se werk met kettingsae en ‘n laaigraaf was nog net die eerste kwart van die De Beers se oprit begaanbaar.
News : 15 Nov 2013 206 Viewed By Jasper Raats 0

Wind en hael het Woensdag verwoesting gesaai in die Roedtan en Immerpan gebied buite Mokopane. Boere in hierdie omgewing sal waarskynlik vir weke sonder elektrisiteit moet klaarkom nadat die wind rye kragpale opgewaai het.
Die meeste van WDM Boerdery van Doelen se varkhokke se dakke is afgeruk. Chrisjan Pretorius se huis is omtrent verwoes, sy spilpunt is omgewaai en sy sonneblom oes heeltemal verwoes.
Frikkie van der Wath wat aan WDM boerdery grens het skade aan sy huis en stoor. Daar is ook elektriese skade by die lande en die heinings wat platgeval is deur bome. Die Immerpanvlakte is baie hard getref. Oeste is weggeslaan.
Philippie de Beer (halfpad tussen Roedtan en Mokopane) se oeste is totaal vernietig en sy spilpunte het Maandag onderstebo gelê. Die skade op sy lande beloop ongeveer R2.1 miljoen met nog R1 miljoen se skade aan sy store, nethuis en woonhuis.
Philippie se pa, Dewald, (ook van die Roedtan omgewing) se afdakke, store landerye en tuin het in die slag gebly. Van die 90ha mielies wat aangeplant is, is daar niks oor nie. Ook nie van die 30ha boontjies nie.
“Ek woon al 60 jaar op hierdie plaas en het nog nooit so iets beleef of gesien nie,” vertel Dewald.
Die De Beer-gesin is Sondagmiddag gou na Blinkwater om te gaan registreer vir die 2014 verkiesing. “Ons was skaars ‘n uur weg. Toe ons terugkom kon ons nie eens met ons oprit by die huis uitkom nie. Bome het die pad toegelê. Ons een stoor is platgewaai en die ander een se dak is afgewaai en ‘n hael kombers het oor ons tuin gelê,” vertel Bessie de Beer.
Bessie en Dewald se seun, Stoffel, sê dit gaan hulle minstens twee maande neem om net die ontwortelde en gebreekte bome op te saag en uit die pad te kry en stukkende geboue weer te herstel.
“En ons sal moet wikkel om weer mielies en boontjies geplant te kry voor die planttyd verby is,” het Stoffel Maandag gesê.
Soos baie boere in dié ramp geteisterde omgewing is die De Beers baie bekommerd oor die tyd wat dit gaan neem om die kragtoevoer te herstel. “Op ‘n plaas koop mens nie elke dag gou ‘n pakkie vleis vir aandete nie. Ons slag ‘n bees en partykeer nog ‘n skaap of ‘n vark ook. Al daai vleis word verwerk en gevries en moet dan vir ‘n jaar hou,” verduidelik Bessie. “Dit gaan ons ‘n fortuin kos om met kragopwekkers aan die gang te bly tot die krag herstel is,” voeg Dewald by.
Eskom het intussen sewe werkspanne in die gebied ontplooi om kraglyne te herstel. - Jasper Raats (Jasper@noordnuus.co.za)

 

 

 
 

Dewald en Bessie de Beer se voortuin na Sondag se hael en windstorm. Toe hulle Sondagmiddag by die huis kom was daar hael, ont-wortelde bome en gebreekte stompe die hele wêreld vol.
Meer as 120 van Eskom se kragpale is omgewaai.
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube