-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die Noord Gautengse Hoë Hof het verlede week Boeremaglid, Dr Lets Pretorius van Mokopane, se borgaansoek van die hand gewys.
Pretorius wat saam met sy seuns Johan, Kobus en Wilhelm skuldig bevind is aan hoogverraad is effektief tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy sal 87-jaar oud wees wanneer sy vonnis uitgedien is.
In sy borgaansoek het Pretorius aangevoer dat hy tyd nodig het om sy testament op te trek en dat hy voorsiening moet maak vir sy vrou en sy kleinkinders en om geld te verdien vir sy appèl aansoek. Hy het gesê hy het ook gesondheidsprobleme waarvoor hy operasies sal moet ondergaan en dat hy sy vrou, Minnie, wil ondersteun. Sy het voorheen borskanker gehad en ly aan depressie. Pretorius het ook aangevoer dat hy geen gevaar vir die publiek inhou nie.
Maar Regter Eben Jordaan het gesê Pretorius het in sy opinie geen kans op ‘n suksesvolle appèl nie en dat die vlugrisiko te groot is. Hy het ook gesê hy kan nie sien waarom Pretorius nie sy testament in die tronk kan opstel nie. Hy het gesê Mev. Pretorius moet maar na haarself omsien. Dit is ongelukkig een van die realiteite van so ‘n langtermyn in gevangenisstraf, het Regter Jordaan gesê.
0 Comments