-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Met die reuse spronge in tegnologie, en veral die internet, het ‘n nuwe wêreld van geleenthede vir ons oopgegaan, nie net vir volwassenes nie, maar vir kinders ook. Kinders het vandag deur hulle selfone, tablette en rekenaars toegang tot enige denkbare inligting of visuele beelde. Dit is egter hierdie vrye toegang wat kenners bekommerd het.
Daar word beraam dat die grootste groep wat na pornografie op die internet kyk, kinders tussen die ouderdom van 12 en 17 is. Die gemiddelde ouderdom wanneer hulle vir die eerste keer, dikwels per ongeluk, op die internet daaraan blootgestel word is 11.
Nolene Rust, ‘n berader by die Kinder-trauma kliniek in Pretoria, meen die probleem is baie groter as wat ons dink. “Jou hare sal regop staan as jy weet wat kinders op ‘n baie vroeë ouderdom sien en waaroor hulle praat. Die probleem is dat dit so vinnig gebeur. Een kind laai ‘n pornografiese prentjie op sy selfoon af en wys dit vir sy maatjie, binne sekondes is albei se nuuskierigheid geprikkel of word hulle daardeur getraumatiseer.”
Is so iets in ‘n dorpie soos Lephalale of Mokopane moontlik? “Beslis,” sê maatskaplike werker Petro van der Walt wat al verskeie laer- en hoërskoolkinders moes berading gee in die verband. “Daar is kinders wat in hulle huise hieraan blootgestel word en tegnologie laat hulle toe om allerhande dinge op hulle selfone af te laai en by skole te versprei.”
Adjudant Offisier, Marlize Schutte van die Lephalale speur eenheid, sê kinders besef nie waarmee hulle besig is nie. Sy behartig dikwels gevalle waar tienermeisies hulself kaal afneem en dan dié foto’s aanstuur vir ‘n kêrel.
“Wat hierdie kinders nie besef nie, is dat sodra jy iets aanstuur dit vir áltyd op die internet beskikbaar is, jy kan dit nooit uitvee nie,” verduidelik sy. Dit is ook ‘n kriminele oortreding om sulke foto’s te besit of aan te stuur omdat dit as kinderpornografie beskou word. As so ‘n foto of video op jou selfoon gevind word kan jy krimineel aangekla word, maak nie saak hou oud jy is nie.
“Ek probeer dit by die kinders tuisbring deur skole te besoek en selfs op laerskool vlak kinders te waarsku om nie hierby betrokke te raak nie,” se Schutte.
Wat staan ouers te doen?
Rust meen ouers moet nie hulle koppe in die sand druk en hoop dat dit nie met hulle kinders sal gebeur nie. Sy sê ouers kan hier ‘n baie belangrike rol speel deur kommunikasie kanale met hulle kinders oop te hou.
“Oop kommunikasie met jou kind is van uiterste belang. Ons raai ouers aan om selfs voorskools te begin met seks opvoeding, maar om dit nie daar te los nie en om voortdurend oop met jou kind daar oor te praat. Dit gee vir jou as ouer die geleentheid om te sê dat daar so iets soos pornografie is, maar dat dit skadelik is vir kinders om daarna te kyk.
“Tegnologie sal altyd daar wees en jy kan kinders nie daarvan weerhou hou nie, tog is dit belangrik om toegang tot hul selfone en Facebook bladsy te hê. Leer die tegnologie ken en maak jou self wys aangaande filters wat op rekenaars gestel kan word,” meen sy.
Rust meen ook dat skole pro-aktief kan optree deur beradingsmateriaal vir kinders en ouers beskikbaar te stel. Skole moet ook volgens haar ‘n definitiewe selfoon-beleid hê.
“Ek werk met verskeie skole waar leerders hulle selfone by die kantoor ingee in die oggend en dit dan weer afhaal wanneer hulle huis toe gaan. Dit verhoed tot ‘n groot mate dat onge-wenste materiaal versprei en bekyk word.”
Volgens Rust is pornografie sielkundig ver-nietigend vir kinders en word dit geassosieer met vroeë seksuele aktiwiteit.
Vir meer inligting besoek gerus www.childtrauma.co.za. Adjudant offisier Marlize Schutte kan ook genader word by sel:
071 355 0557. - Valerie Cilliers (valerie@noordnuus.co.za)
0 Comments