<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Somertyd is slangtyd in die Bosveld

 
Skildneuskobras is tans ook baie te sien in die Lephalale omgewing.
News : 28 Nov 2013 710 Viewed By Valerie Cilliers 0

Wat is dan nou lekkerder as somertyd in die Bosveld? Met heerlike reënbuie en warm sonskyndae is die Bosveld hierdie tyd van die jaar op sy mooiste. Maar somertyd is ook slangtyd. Vra maar vir Marius Koekemoer van Reptile Rescue in Lephalale. Marius en sy span het sedert die begin van November meer as 30 oproepe ontvang om slange in die Lephalale omgewing te verwyder.
So is hy verlede Woensdag uitgeroep om ‘n 2,2 m swart mamba by Medupi behuising in Gompoustraat in Onverwacht te vang. Marius is al landwyd bekend vir sy vernuf as slangvanger en ‘n nasionale nuusspan was juis die volgende dag by Medupi om hom op film vas te lê. Marius sê hy en sy vennoot, Henco Janse van Rensburg, kan nie voorbly met al die oproepe nie. Hy is nog besig om die een slang te vang dan moet hy hom haas na die volgende benoude inwoner wat ‘n slang ontdek het.
So word ek ook self Woensdagoggend wakker met ‘n Mosambiekse spoegkobra in my tuin. Kort voor ses bel ek Reptile Rescue en binne minute is Henco daar. Sommer in ‘n japtrap is die glibberige kalant in ‘n sak en weg. Dit is volgens Marius juis die Mosambiekse spoegkobra, die skildneuskobra (sien foto) en die Suidelike sypik wat hierdie tyd van die jaar volop in die Bosveld is. Dit is veral die laasgenoemde slang wat na swaar reënbuie van onder uit die grond na bo beweeg om bietjie son op sy lyf te voel. “Baie mense verwar die slang met die skadelose Molslang, maar hierdie meneer se byt kan groot skade aanrig,” vertel Marius
Reptile Rescue verwyder slange van boupersele en privaat wonings vir ‘n donasie en alle giftige slange word gestuur om gemelk te word vir teengif. Skakel gerus vir Marius by 072 174 6970 of Henco Janse van Rensburg by 082 822 9113. - Valerie Cilliers (valerie@noordnuus.co.za)

 

 

 
 

‘n Nasionale nuusspan voer ‘n onderhoud met Marius oor die slange wat hy op Medupi vang.
‘n Mosambiekse Spoegkobra wat verlede week op ‘n plaas net buite Lephalale deur Henco Janse van Rensburg van Reptile Rescue gevang is.
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube