-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Sowat 4000 hektaar het sedert verlede Vrydag in een van die ergste brande in baie jare in die Steenbokpan-omgewing afgebrand. Sonder enige hulp van die plaaslike brandweer, wat skynbaar sonder voertuie was, het boere van uit die Steenbokpan- en Soutpan-omgewing vure sedert Vrydagoggend beveg.
Die vuur het op die plaas Kremetartpan in Steenbokpan begin nadat ‘n beheerde brand wat geblus was skielik weer opgevlam het. Die brand het vinnig versprei na die buurplaas waar boere die vuur ingewag en met voorbrande onder beheer gebring het. Die vuur was 80% onder beheer, toe die plaasbestuurder van een plaas brandslaners glo verbied het om verdere voorbrande te maak en hulle aangesê het om die plaas te verlaat. Die brandspanne het geen ander keuse gehad as om op die grense van die buurplase die vuur in te wag nie. Die vuur het vinnig versprei na die plase Doornlaagte, Het-slot, Buffelsdraai, Kalkheuwel en Rooipan.
Sonder om ag te slaan op die risiko wat dit vir hulle en hul voertuie inhou het nog boere vanuit die gemeenskap hulle by die spanne aangesluit en teen 23:00 Vrydagaand was die vuur geblus. Die brand het egter weer Saterdag weens sterk winde vlam gevat, maar is vinnig bedwing. Sondagoggend 09:00 het die eienaar van Kalkheuwel gerapporteer dat dit weer brand en die gemeenskap is uitgeroep waar daar tot 17:00 Sondagmiddag gespook is om die vuur onder beheer te kry.
“Dit is baie moeilik om al die kooltjies en stompies te blus om te verseker dat die veld nie weer brand nie, die sterk wind en die grootte van die area het dit baie moeilik gemaak. Boere in die omgewing is dit eens dat dit een van die moeilikste brande in ‘n lang tyd was om te bestry,” het een van die boere in die omgewing aan Noordelike Nuus gesê. Die gemeenskap bedank graag elkeen wat gehelp het om die vure te beveg.
Die munisipaliteit se bestuurder van sosiale dienste, Simon Thobane, het hierdie week verduidelik dat die brandweer oor die naweek verskeie brande moes blus. Met ‘n tekort aan personeel en voertuie kon brandweerspanne nie orals uitkom nie. ‘n Brand by Ka’Ingo reservaat net buite Lephalale, Marapong en in die berge by Witkop is ook oor die naweek aangemeld. - Valerie Cilliers (valerie@noordnuus.co.za)
0 Comments