-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Een jaar so ruk voor Kerstyd kom Oom Willy weer tamaties laai. Die laaiery met die trok vat nogal lank en Ma nooi Oom Willy om saam met ons middagete te eet.
Ons kinders het klaar ‘n Kersboom op die stoep gemaak en al die mooiste kaartjies wat in die pos kom, is aan die boom opgehang. Terwyl Ma die tafel dek loop Oom Willly so al om die boom en bekyk die Kerskaartjies een vir een. Ek sien hy steek vas by die een met die takbokke wat 'n sleë trek. Hy tik-tik so met sy vinger op die span takbokke en vra of ons al ‘n takbok gesien het. Ek en my broer skud ons koppe want waar sou ‘n Bosveldkind nou al ‘n takbok gesien het? Ek wonder nog oor die takbokke toe sien ek Oom Willy het 'n storie wat vertel móét word.
“Hier was ook een keer 'n takbok in die geweste, maar laat ek liewer by die begin begin…ammunisie was mos maar skraps so na die oorlog. So vat ek een middag die geweer om 'n bietjie vleis vir die pot te gaan soek. Ek het nie ver geloop nie of ek sien 'n groot trop rooibokke en gaan hurk so agter ‘n rosyntjiebos om ‘n goeie skoot in te kry. Ek vat mooi dooierus op ‘n groterige ram maar toe die skoot klap is dit mis.
Iemand moes die visier gestamp want ek het nie mis geskiet nie. So loop ek maar bek-af terug huis se kant toe want dit was my laaste patroon en die pot is leeg. Pa gaan moeilik wees vandag.
Ek kon al as die wind reg draai die werf se geluide hoor toe ek die vreeslike groot koedoebul sien staan onder 'n maroelaboom. So asof die koedoe weet ek het nie een enkele patroon by my nie, bly hy staan. Ons kyk vir mekaar. In my kop probeer ek 'n plan bedink om die pragtige bok plat te trek maar ‘n man met ‘n geweer sonder patrone is maar soos 'n bokkapater.
Ek gaan sit toe maar sommer onder die naaste maroelaboom om die pragtige dier dop te hou. Sy horings was tamaai. Sulke wye horings wat geblink het in die warm son. Hy kyk kort-kort na my kant toe en dan pluk hy weer ewe windmakerig ‘n paar sagte blaartoppies.
Later maak ek my bladsak oop en drink 'n slukkie water. Ma het vir my ‘n paar stukkies biltong en perskes ingepak en ek dog so by myself laat ek maar eet terwyl ek nou so sonder ‘n plan sit. Toe ek met die biltong klaar is en van die lekker soet Albertas met my knipmes sit en skil vir poeding kom daar ‘n plan in my kop. Ek eet die Alberta so skoon ek kan en suig die laaste soetigheid van die pit af. Daardie jaar was die perskes ook maar aan die klein kant soos vanjaar met die min reën.
Met my knipmes begin ek die pit so al aan die voorkant kerf. Man, toe ek klaar is, sou jy kon sweer hy kom uit Krygkor se fabriek. Met die pit in die voorlaaier se loop bekruip ek die koedoe wat teen die tyd al so ent ver gewei het. Nou kyk, ek is 'n ou jagter en toe die skoot klap, toe weet ek dis 'n raakskoot. Maar wat, die bok staan net so oomblik, skud sy kop en daar trek hy.
Ek het tot donker agter hom aangeloop maar ek het eintlik geweet dit is tydmors. Aan sy manier van draf kon ek sien hy is ver van doodgaan. By die huis het my pa en broers gelê soos hulle lag oor ek kon dink mens kan met ‘n perskepit jag.
Nou julle sal my nou seker nie glo nie, eendag toe ons lankal van die perskepit vergeet het, stap ek en Pa een middag in die boonste kamp toe ons twee ryp perskes in die voetpaadjie sien lê. Ons loop maar katvoet verder want ons dag toe dit moet wilddiewe wees. Naby die onderste suiping tel ons weer 'n perske op maar nêrens is daar ‘n teken van ‘n mens nie. Net hier en daar ‘n koedoespoor of twee. Seker maar ape wat op iemand se werf gesteel het, reken Pa.
Skielik tik hy my op die skouer en wys na iets voor in die bos. ‘n Hele ent voor ons staan daar sowaar ‘n perskeboom met takke vol groot perskes. Die takke buig sommer so ondertoe so swaar is hulle. My mond water skoon.
Ek sien Pa frons want sowaar as vet het daar nog nooit 'n perskeboom in die boonste kamp gegroei nie. Boonop sommerso in die ooptes waar daar nie eens ‘n bietjie water van die suipings mors nie. Ek is skoon spyt ek het nie 'n streepsak of iets saamgebring nie want dis wraggies die mooiste groot perskes wat daar nog op hierdie plaas gegroei het.
Net toe ek en Pa begin nader stap sien ek die takke roer so effens. Vreemd, dag ek. Hier is dan nie eens ‘n luggie wat trek nie. Seker maar 'n blou-aap wat ook iets te ete soek.
Ek wonder nog oor die takke wat beweeg het toe hoor ek net Pa gee een benoude skreeu want die volgende oomblik storm die perskeboom sommer so skuins by ons verby. Tussen die takke blink die mooiste stel koedoehorings en onder waar die boom se stam moet sit, daar steek 'n koedoe se bene uit.
- Alet van der Walt
0 Comments