<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Spoorsnyer vrygespreek, maar...

 
News : 06 Dec 2013 164 Viewed By Jasper Raats 0

Landdros Gerhard Pretorius het dit verlede Donderdag in die Mokopane Streekshof duidelik gemaak dat hy nie glo alles is pluis met die poging tot moord klagte wat die Onafhanklike Klagte Direktoraat teen polisiereservis Andries (Vossie) Vosloo van Mookgophong aanhangig gemaak het nie.
Vosloo is ‘n lid van die spesialis groep spoorsnyers wat die polisie al vir etlike jare bystaan in die opspoor van voortvlugtiges in plaasaanval en renoster diefstal sake.
Volgens getuienis wat Donderdag in die hof gehoor is, het hy in die oggendure van 15 Oktober 2012 saam met vier lede van die Limpopo veediefstal eenheid aan ‘n operasie deelgeneem om ‘n groep vermeende veediewe in die Mookgophong-omgewing vas te trek.
Die eenheid se bevelvoerder, Kapt. Herman Lubbe, het getuig hoe Vosloo een van die vlugtende verdagtes die aand te voet agterna gesit het toe hy [Lubbe] nie vinnig genoeg kon hardloop om die verdagte te vang nie. Kort daarna het hy skote gehoor uit die rigting waarin Vosloo gehardloop het. Hy het ook skote gehoor uit die rigting van twee ander polisiemanne wat op voortvlugtiges se spoor was.
Dit is hiérdie skote waaroor Pretorius sy kommer uitgespreek het toe hy in sy uitspraak Donderdag die integriteit van die ondersoek na die skietery bevraagteken het. “Drie polisiemanne skiet, maar net een word aangekla,” het hy vraend opgemerk.
Pretorius het gesê dit lyk vir hom of een ter wille van die
ander opgeoffer word. Hy het die feit dat net die vyf doppies uit Volsoo se vuurwapen op die toneel opgetel en as bewysstukke
ingedien is as verstommende onprofessionele speurwerk beskryf. “Dit is onaanvaarbaar,” het hy gesê. “Waar is die
ander polisiemanne se doppies?”
Die Staat het na al die getuienis aangehoor is gevra het dat ‘n klag van aanranding bygevoeg word.  In sy uitspraak het Landdros Pretorius gesê die hof kan nie bevind dat dit Vosloo se bedoeling was om die vlugtende verdagte dood te skiet nie en het hom dus onskuldig bevind op beide klagte van poging tot moord.
Hy het egter gesê hoewel die klaer vir die hof gelieg het in sy getuienis, is hy aan die hand van Vosloo beseer en daarom het hy Vosloo skuldig bevind op die klag van aanranding.
Pretorius het die versagtende omstandighede opgesom en gesê die goeie werk wat Vosloo doen is nie onbekend aan die hof nie. In sy slotrede het Vosloo se regsverteenwoordiger, Braam Lourens, vroeër gesê Vosloo is ‘n lid van die publiek wat vrywilliglik sy tyd daaraan wy om lede van die samelewing te beveilig sonder dat hy daarvoor betaal of vergoed word.
In ‘n ongewone stap het Pretorius vonnisoplegging opgeskort vir ‘n tydperk van vyf jaar en het Vosloo onvoorwaardelik vrygespreek. - Jasper Raats (jasper@noordnuus.co.za)

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube