-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Om empatie te hê met iemand is soms makliker as jy self in daardie persoon se skoene gestap het. Min mense verstaan die pad wat Lephalale se twee vegtertjies, Pippie Kruger en Mikayla Robbertse, die laaste paar jaar gestap het. Albei dogtertjies het al baie mense geïnspireer met hulle dapper stryd om te oorleef en gesond te word.
Pippie wat erg verbrand het en Mikayla wat deur ‘n Mosambiekse spoegkobra gepik is, het landwyd harte aangeraak. Dié dogtertjies, verstaan beter as enigiemand hoe dit vir ‘n kind voel om vir maande in ‘n hospitaalbed te lê. Dit is juis hierdie verstaan, wat vir Mikalaya aangespoor het om die Beertjies en Bybels projek te begin. Dié lewenslustige krulkoppie het al honderde Bybels, Bybelstorieboeke en beertjies aan kinders wat in hospitale regoor die land is uitgedeel. Haar voog, Charmaine Robbertse, vertel dat een seuntjie met sy Bybel en beertjie die teater ingestoot moes word omdat hy geweier het om dit te los.
Pippie en haar ma, Anice Kruger, het van Mikayla se projek te hore gekom en wou ook help. So het Anice hierdie week ‘n bakkie vrag vol teddies by die Robbertse se huis in Lephalale afgelaai. Pippie kon nie daar wees nie, omdat sy weens die sensitiwiteit van haar oorgeplante nuwe vel nie in die son mag kom nie. Mikayla was buite haarself van opgewondenheid oor al die teddies wat sy nou aan siek kindertjies kan uitdeel. Saam met die beertjies en Bybels deel sy altyd ‘n stukkie wysheid: “Jesus kan jou gesond maak, jy moet nie bang wees nie”.
0 Comments