-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
- Melt van der Spuy
“Ek wens party keer ek het in die bybel se tyd geleef.” Dis slim Servaas wat so praat toe ek en hy nou die ander dag op die stoep sit en ’n koffietjie drink. “Ek meen”, gaan hy voort, “waar wil jy nou meer tyd vir uitkamp hê as juis in die tyd van die Israeliete?”
Ek kan sommer aanvoel Servaas wil nou weer die een of ander slim ding
kwytraak. As hy eers sy lang bene voor hom uitstrek en agteroor in die stoel leun, kom daar soms snaakse woorde uit sy mond.
“Nou hoe bedoel jy van die Israeliete?” vra ek. Dis nie aldag wat Servaas bybel se goed praat nie en dis my kans om te sien hoe werk die kant van sy brein waar dit oor godsdiens gaan.
“Nee ek meen nou maar net, die eerste kampeerders ter aarde was seker maar die Israeliete. Dis nou as jy die oermense wat ook maar moes rondtrek buite rekening laat. Die Israeliete het vir 40 jaar in die woestyn rondgetrek en uitgekamp. Moes nogal lekker gewees het. Amper soos permanent uitkamp.” Sy laaste opmerking is byna weemoedig. So asof hy daarna verlang om voltyds kampeerder te word.
Ek wou die een of ander slim opmerking uitdink, toe kom Herman met sy rooi bakkie om die hoek. Hy klim nog uit, toe praat hy al: ”En vir wat sit julle oues van dae soos twee dikgevreete worshonne op die stoep? Dink julle nie dis tyd om die caravans te haak nie?”
Met Herman weet jy nooit waar jy staan nie en jy moet by wees om te verstaan wat hy sê. Hy praat sommer so tussen-in van verskeie goed tegelyk.
“Servaas sê die eerste kampeerders was die Israeliete en hy dink dit kan nogal lekker wees om so voltyds te kamp,” sê ek. Ek weet Herman hou van uitkamp, maar ek dink nie hy sal dit voltyds wil doen nie. Hy kom sit op ’n stoel en frons so ‘n slag: ”Ja dit kan seker wees, maar dan moet jy ook onthou na al hulle ge-uitkampery was daar vir hulle iets groot om te kry. Die beloofde land.”
“Voel party keer vir my ek is klaar in die beloofde land elke keer as ek kamp,” sê Servaas.” Dis mos absolute saligheid om so lekker op jou eie kampplek te staan en trek die nag nog boonop om jou saam en die kamp raak stil, is dit net jy en jou Skepper so saam onder die sterre.”
Herman klop my op die skouer: “Nou praat hy met ’n mond vol tanne.”
“Ja,” praat Servaas verder, “en net soos die Israeliete die beloofde land gekry het, kry ons latere geslagte ook deur ons geloof in Jesus ook ’n beloofde land.”
Vir ’n paar oomblikke is ons stil. Dis asof elkeen se gedagtes besig is met dit wat meer as 2000 jaar gelede by
Betlehem gebeur het. Dié dag toe die Verlosser gebore is en die engelekoor die blye boodskap aan die herders oorgedra het.
Ek glimlag so na die twee se kant toe. “Dis lekker om pelle soos julle te hê. ’n Blink Kersfees en ’n groot 2014 vir julle twee.”
0 Comments