-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Terwyl al wat leef en beef oor die Kersgety koers gekies het see toe, het Francois Burger van Lephalale saam met sy gesin en ‘n paar vriende by Tog te Lekker op die oewer van die Palalarivier gaan kamp.
Tog te Lekker het verlede jaar nuus gemaak toe Sallie Vermaak - ook van Lephalale - beide Noordelike nuus se sportblaaie en die tydskrif, Die Oewerhengelaar, se voorblad gehaal het met ‘n allemintige karp wat hy daar gevang het.
Francois en sy vriende het so tussen die vakansie-houery deur lyne natgemaak en is beloon met drie karpe van 6,5kg, 8,5kg en een van 11,3kg. “Die grootste baber wat ons gevang het was so in die omgewing van 6,5kg,” vertel hy.
Twee keer het iets lyne opgetel en laat loop dat daar geen omdraai was nie.
“Ek weet nou nog nie wat so verskriklik gehardloop het nie, seker maar groot karpe.”
Van die oewer af het die manne hoofsaaklik met tiger nuts op haarstroppe gehengel. Hulle het voerplek gemaak met hempsaad, kaboemielies en gemaalde tiger nuts.
Hoewel daar nie motorbote by die oord toegelaat word nie, mag hengelaars met kleiner bote en elektriese motors op die rivier vaar waar hulle dan jag kan maak op die Palala se swartbaars bevolking.
Francois sê hulle het sommer baie swartbaars gevang van tussen een en twee kilogram en vir die pan is daar so nou en dan ‘n kurper uitgetrek.
Hy beveel Tog te Lekker aan vir enigiemand wat gou wil wegbreek vir ‘n lekker hengel naweek sonder om te ver te ry. “Onthou net dat hengel in ‘n rivierstelsel soos die Palala nogal wispelturig kan wees. Die water is maar vlak en klimaat en weersverandering speel ‘n groter rol in die vis se aktiwiteitsvlakke as wat dit by groot damme doen.” - Jasper Raats (jasper@noordnuus.co.za)
0 Comments