-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Geskiedskrywer en filosoof, Edmund Burke, het gesê: ‘People will not look forward to posterity who never look backward to their ancestors.”
Al ooit gewonder wie die eerste persoon was wat jou van gehad het? Of wie die eerste Joubert of Du Plooy of Wiese was wat hul in Suid Afrika gevestig hê? Stamboom navorsing is ‘n stokperdjie wat toenemende gewildheid in Suid Afrika geniet.
Noordelike Nuus het met vier inwoners van Lephalale gesels wat hulle voorgeslagte nagevors en uiteindelik baie oor hulself ontdek het.
Daar is min mense wat hulle familie so ver terug kan navolg soos oom Tienie Loots. Tienie vertel dat die heel eerste persoon wat die van Loots aangeneem het ‘n man genaamd Jan Loots was. Hy was ‘n seerower aan die kus van Somalië, waar hy gereeld beslag gelê het op verbygaande skepe. Hy het later die skepe uitgevoer na Engeland en Holland. In die laat 1500’s het hy hom in Holland gevestig waar hy die Burgemeester van Amsterdam geword het. Dit is ook in hierdie tyd dat hy die van Loots (stuurman van ‘n skip) aanneem. Twee geslagte later vertrek sy kleinseun, ook Jan Loots, na Suid Afrika en is hy volgens historiese dokumente die enigste Loots wat homself hier vestig. ‘n Paar geslagte later trek Marthinus Frederick Loots of Oom Rooie soos hy bekend gestaan het vanuit die Groot Marico na die Ellisras omgewing. Op daardie stadium was daar geen winkel of selfs transport gery nie. Oom Rooie sien ‘n geleentheid en begin om met ossewaens transport tussen Nylstroom en Mahalapye in Botswana te ry. Dit neem hom een week Nylstroom toe en een week terug in Ellisras en dan weer ‘n week Mahalapye en weer ‘n week om terug te kom in Ellisras. In die 1920’s het ‘n spoorweg bus die pad wat Oom Rooie uitgery het begin gebruik, maar omdat daar nog nie ‘n naam vir die “dorp” geregistreer is nie, kon die bus nie hier stop nie. Oom Rooie het die name Wol-Loots (Wolmarans en Loots) en Lee-Loots voorwêreld toe gestuur vir registrasie maar die name is afgekeur. Later is Ellis-Ras (Ellis en Erasmus) deur gestuur en is dit aanvaar. Oom Tienie was oom Rooie se 14de kind en woon vandag nog op Ellisras.
Vir sommige gee dit dalk ‘n gevoel van standvastigheid om te weet waar hulle vandaan kom. Vir Johan Boonzaier wat die Wimpy op Lephalale besit was dit egter ‘n soeke na wie sy pa was. Johan se pa, Robert Boonzaier, het in 1961 in ‘n motorongeluk gesterf (toe Johan maar twee jaar oud was). Hy was ‘n joernalis en uit op ‘n storie, toe die ongeluk gebeur het. Johan het kontak met sy pa se kant van die familie verloor en wou meer oor die Boonzaier familie uitvind. Hy het geweet dat sy pa oorspronklik van Jacobsdal afkomstig was en het een naweek spontaan besluit om die nege ure per motor daarheen te aan te pak. Daar het hy in ‘n ou kerk sy pa en oupa se name in die doop register raakgelees en is die huis waar sy oupa, P.H.E Boonzaier gebore is aan hom uitgewys. Dit is ook in Jacobsdal dat Johan die familiebybel opgespoor het wat hy vandag soos goud bewaar. Johan se groot oupa grootjie het in 1864 van Holland af Suid-Afrika toe gekom.
Denise Fourie is nog ‘n inwoner van Lephalale wat rekord het van haar voorgeslagte. Haar nooiensvan was Lloyd, afkomstig van ‘n 1820 setlaar wat per boot uit Wallis Suid-Afrika toe gekom het en hom in Grahamstad gevestig het. Die boek is deur ‘n familie lid met die hand geskryf en bevat inligting oor die geboorte, afsterwe, huwelike en kinders van die hele Lloyd familie van 1820 tot vandag.
Költzow is nie ‘n algemene van in Suid-Afrika nie en is oorspronklik van Noorweë afkomstig. Noordelike Nuus bemarker Dolla Költzow het geweet dat haar oupa-grootjie in die laat 1800’s weens die slegte ekonomiese omstandighede vanuit Europa hierheen gekom het, maar niemand was seker waar hy begrawe is nie. Met ‘n bietjie navorsing het ons sy graf op die plaas Hoornbosch, net buite Lephalale opgespoor. John Friedrich Adolf Költzow het in die laat 1800s Noorweë verlaat en hom as algemene handelaar in die Waterberg omgewing gevestig. Met die uitbreek van die Anglo-Boere oorlog het sy vrou en twee kinders, wat in Noorweë agtergebly het, hom gemaan om terug te gaan huis toe. Johnny het egter ‘n beter vooruitsig hier in Suid-Afrika gesien en het besluit om hier aan te bly. Na haar dood is hy met Susan Nel getroud en drie kinders, onder wie Dolla se oupa, was uit die huwelik gebore. Dolla se oupa, ook J.F.A Költzow was maar ses jaar oud toe Johnny in 1916 op die ouderdom van 54 oorlede en hier begrawe is.
Al ooit gewonder oor die grafte in die oop stuk veld oorkant Pick & Pay? Die name is effens verdof, maar ‘n mens kan die vanne nog uitmaak: Kleynhans, Botha, Welpton, Wolmarans, Loots... en van die sewe grafte is ses klein kindertjies - sommige net ‘n paar daggies oud toe hulle dood is. Volgens Oom Tienie Loots was dit eens ‘n gemeenskaplike familie begraafplaas. Sy eie sussie wat maar twee dae oud was toe sy gesterf het is ook daar begrawe. Die dorpsvader Patrick Henry Ellis was ook daar begrawe, maar sy oorskot is in 1989 na die Pioniers begraafplaas net buite die dorp verskuif. Die verskuiwing is gedokumenteer in ‘n boek wat Oom Tienie saamgestel het en wat by die Lephalale munisipale biblioteek beskikbaar is. Planne bestaan om ‘n nuwe winkel sentrum op die perseel oorkant Pick & Pay te bou, tog is die versekering gegee dat die grafte nie verskuif sal word nie. ‘n Klein monument sal opgerig word vir die behoud van die “All God’s children” begraafplaas soos hy bekend staan. - Valerie Cilliers (valerie@noordnuus.co.za)
0 Comments