-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Limpopo se matriek slaagsyfer het verlede jaar met bykans 5% verbeter en staan op 71.8% het die minister van onderwys, Angie Motshekga, Maandagaand aangekondig. Hoewel daar landwyd baie vrae gevra is oor die integriteit van dié groot verbetering in resultate is skole in die Waterberg omgewing opgewonde oor hul leerders se puik prestasies.
Waterberg Hoërskool in Mokopane spog vir die vierde opeenvolgende jaar met ‘n 100% slaagsyfer waarvan 72% van hierdie matrikulante universiteitstoelating het. Dié skool het toekennings van die provinsiale departement ontvang vir sy 100% slaagsyfer en ook as een van die top 40 skole in Limpopo.
Ellisras Hoërskool (EHS) het ook Dinsdag ‘n toekenning in Polokwane ontvang vir die besonderse goeie matriek resultate wat in 2013 behaal is. Altesaam 160 onderskeidings is ingepalm en 122 leerders slaag met graad en diploma vrystelling. EHS top-presteerders is Ignus le Roux en Kenneth Seleka wat elk met agt onderskeidings slaag. Gerrit Peens behaal sewe onderskeidings en Thabiso Mokwena behaal ses. Hymin Lottering, Wernand Pretorius en Ruvè van Nierkerk slaag elk met vyf onderskeidings. Chantelle Fouché en Anlu Coetsee het elk vier onderskeidings behaal.
Kenneth Seleka en Ignus le Roux is genooi na die Limpopo Onderwysdepartement se prysuitdeling wat Dinsdag plaasgevind het en behaal onderskeidelik ‘n sewende en elfde plek onder die 40 beste presteerders in die provinsie met ‘n gemiddeld van 93,6% en 93%.
Ignus gaan in 2014 as student by die Universiteit van Pretoria aansluit en studeer vir ‘n graad in Elektriese Ingenieurs-wese. Kenneth beplan om Aktuariële Wetenskap by die Universiteit van die Witwatersrand te studeer.
Hoërskool Piet Potgieter is ook baie trots op sy 2013 matrikulante se goeie uitslae. Uit die 2013 groep behaal 48% universiteits-toelating en 42% kwalifiseer vir diploma studies by tersiêre inrigtings.
Iné Vorster het agt onderskeidings behaal, Zander Bronkhorst en Kanchana Devandran het elk sewe. Liezl Horn, Talitha Pool, Neël Swanepoel en Edna Thobane spog elk met vyf onderskeidings en Jonelle Holtzhausen sluit haar skoolloopbaan af met vier onderskeidings. “Ons is baie trots op hierdie leerders se prestasies,” sê adjunkhoof, Cas Badenhorst. “Maar ons is ook trots op die leerders wat hier in die doodsnikke van matriek alles in die stryd gewerp het om deur te kom.”
Badenhorst verduidelik dat die skool ‘n beleid volg om nooit op te gee op ‘n leerder nie. “Daar is deesdae baie in die media berig oor skole wat ‘n beleid volg om leerders wat lyk of hul nie matriek gaan slaag nie eenvoudig uit te skop. “Dit is dalk goed vir ‘n skool se algehele slaagsyfer, maar as ons een leerder wat op die grens was kan help om die grootmenswêreld in te vaar met ‘n matrieksertifikaat, dan is dit vir ons die moeite werd,” verduidelik hy.
Oor die polemiek rondom standaarde en lae slaagsyfers sê Badenhorst hy het begrip vir Prof. Jonathan Jansen van die Universiteit van die Vrystaat se opinie dat die slaagsyfer hoër moet wees. “Baie leerders doen net genoeg om deur te kom en deur die slaagsyfer te verhoog sal mens daardie leerders motiveer om bietjie meer te leer en sodoende met meer kennis en op ‘n hoër standaard die skool te verlaat.
Hy sê as ‘n reël word Piet Potgieter se leerders goed ontvang by tersiêre instellings en in die werksplek. Ons is trots op die 2013 matrikulante en wens hulle voorspoed toe."
0 Comments