-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Dit gaan ‘n jaar van rus en herstel wees vir Stehan de Kock van Lephalale wat einde Oktober verlede jaar in ‘n motorfietsongeluk ernstige brein trauma opgedoen het.
Hoewel Stehan beter as verwag herstel het na die ongeluk, beveel dokters aan dat hy vir ‘n jaar lank nie sy werk as professionele jagter voortsit nie.
Hy is sedert Desember, na ses weke se intensiewe behandeling in die Meulmed hospitaal, weer op Adansonia Safaris, 60km buite Lephalale waar hy tydens die jagseisoen vryskut werk doen. Twee keer ‘n week word daar ingery dorp toe vir spraak- en arbeidsterapie.
Volgens sy vrou, Maja, het Stehan in die eerste paar weke na die ongeluk wonderbaarlike herstel, sy skryf dit toe aan sy eie vasbeslotenheid om gesond te word, volgehoue gebed en die ondersteuning van vriende en familie.
“Hy werk hard en is baie opgewonde oor elke mylpaal wat hy bereik. Alhoewel hy aanvanklik bo verwagting goed herstel het, is daar nou ‘n effense afplatting en moet ons aanvaar dat die herstel tyd gaan neem. Tog glo ons dat niks vir God onmoontlik is nie.”
Intussen reel Maja fondsinsamelings geleenthede vir die onkoste van Stehan se behandeling. ‘n Plaas Valentynmark word vir 8 Februarie by die Lephalale Square (Pick ‘n Pay sentrum) in Lephalale beplan. “Ek het self so baie ondersteuning van vriende en familie gekry, maar terwyl ek in die hospitaal was het ek familie lede van pasiënte gesien wat nie ‘n ondersteunings raamwerk het nie. ‘n Eenvoudige ding, soos verblyf tydens ‘n geliefde se hospitalisie tydperk is ‘n probleem as jy nie ondersteuning het nie. Daarom het ek ‘n fonds gestig genaamd 'Dei Gratia' wat beteken “deur God se genade”. Hiermee wil ek nie net fondse insamel vir Stehan se behandeling nie, maar ook vir soortgelyke gevalle waar die broodwinner in die huis in die hospitaal beland of vir maande nie kan werk nie,” vertel sy.
Om meer uit te vind oor die fonds of die fondsinsamelings aksies skakel gerus vir Maja by 078 814 9919. - Valerie Cilliers (valerie@noordnuus.co.za)
0 Comments