-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Ellisras Hoërskool (EHS) begin die jaar sonder 'n geliefde en geëerde onderwyseres: Marlindi Yssel. Gedurende 'n bootreis in die Mosambiekse waters is sy Sondag 15 Desember 2013 skielik en sonder waarskuwing op die ouderdom van 53 aan 'n hartaanval oorlede.
Marlindi het maklik en baie gelag - die ligter kant van die lewe waardeer. Sy was uiters hardwerkend soos haar matriekuit-slae vir Graad 12 English Home Language 2013 weerspieël het. Sy was baie geliefd onder personeel en leerders. By die noodhulp het sy haar uitgeleef en elke beseerde met piëteit behandel.
Sy het die moed gehad om sommer so akkapella vir die gehoor te sing en die skool op ‘n Maadagoggend in goeie luim te laat begin. Marlindi was diep godsdienstig.
Marlindi, Martin en gesin asook Neels en Adri Gerber was saam met vakansie op die bootreis. Martin se opmerking was dat hy nie vir beter vriende kon vra om hom deur hierdie moeilike tyd te dra nie.
Marlindi se roudiens het reeds plaasgevind in Klerksdorp op 27 Desember 2013.
Mof en Mariette Weber, Marlindi se kollegas, het 'n bussie gereël vanaf Ellisras vir die wat die diens in die vakansie kon bywoon.
Haar roudiensbrief het hierdie treffende boodskap van haar man gehad:
“Op 15 Desember verlaat Marlindi ons skielik met geen fênsie woorde. Geen loflied in die hart, net bitter swaar akkoorde! In ‘n oogwink, is haar vrolike lag nie meer daar – haar plek is nou saam met die vrolike Engeleskaar. Eenvoud en opregtheid was haar heel grootste leuse. Om voluit te leef, was daagliks haar eerlike keuse. Ons bring hulde aan ‘n vrou, wat sagkens lewens kon verryk, haar borrelende vreugde sal altyd as
medaljes by ons pryk. So jonk, maar skaars 53 jaar oud. Maar God se tyd is volmaak. Hy maak nooit ‘n enkele fout! My Liefde, jou liefde vir blomme het my dikwels verstom! Op die plek waar jy geplant was het jy welig geblom. Soos die geur van blomme is jou lewensvreugde versprei. Nou is daar niks meer wat jou van God se liefde kan skei. Dankie vir tien wonderlike jare!”
Martin bedank ook vir Deon Viviers van Solidariteit wat uiters behulpsaam was met die reëlings om Marlindi in Suid-Afrika terug te kry.
Marlindi was op ‘n bootreis, eintlik ‘n reis na haar ewige bestemming. Ja, is ons nie maar almal reisigers na ons ewige
woning nie? - Deur Fransa de Beer
0 Comments