-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Vermaak, pret en plesier vir die hele gesin is al sinoniem met die jaarlikse Boere rumoer wat deur die Nederduitsch Hervormde Kerk Ebenhaeser in Lephalale aangebied word.
Daar kan op Saterdag, 8 Maart, uitgesien word na optredes deur Tjiff en Tjaff en bekende sangers soos Jakkie Louw, Dewald Wasserfall en Ricus Nel gaan optree.
Die baberhandvang-kompetisie het tydens 2013 se Boere rumoer vanweë die swaar reën nie heeltemal tot sy reg gekom nie, maar hierdie jaar kan die handvissermanne gerus naderstaan.
Soos gewoonlik kan weer uitgesien word na top kwaliteit rou vleis wat teen uiters mededingende pryse te koop aangebied sal word. Daar sal ook ander lekkernye wees om van te kies en te keur. Mens gaan nie sommer van die Boere rumoer af huis toe met ‘n leë maag nie.
Oudergewoonte bied die gemeente saam met die Boere rumoer weer ‘n kompetisie aan met asemrowende pryse. Met 2013 se kompetisie was die eerste prys ‘n Simmentaler bul (foto) met vyf kommersiële verse. Vir 2014 se kompetisie het die gemeente die standaard gelig. Die eerste prys is weer ‘n Simmentaler bul, maar die keer kom hy saam met vyf stoet Simmentaler verse. Mens kan werklik ‘n mooi boerdery met die prys aan die gang sit. Die ander pryse is ook nie te versmaai nie. Die tweede prys is ‘n ruim jagpakket wat insluit twee koedoekoeie, twee rooibokooie, twee blouwildebeeste en twee vlakvarke. Selfsorg verblyf vir vier persone vir vier nagte is ook hierby ingesluit. Die derde prys is ‘n slagos en ‘n vakansie by Ramsgate. Die vierde prys ‘n weeklange vakansie in Mosambiek by Paindane strandoord. Die vyfde prys ‘n wegbreek spa naweek by Bateleur Safari Lodge. Die sesde prys is ‘n vleispakket bestaande uit maalvleis, wors en biltong. Teen slegs honderd rand per kaartjie is hierdie ‘n kompetisie wat massiewe waarde bied.
Vir inligting kontak Johan van der Merwe by 084 515 7732 of kontak die kerkkantoor by 014 763 2703.
0 Comments