-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
“Mamma, my vinger is reguit!” dit was Mikayla Robbertse (7) se eerste woorde na ‘n noodoperasie Dinsdagmiddag om te keer dat sy die gebruik van haar hand verloor.
Mikayla se handjie het begin skeef trek na ‘n operasie einde verlede jaar toe daar gepoog is om haar vinger, wat meer as twee jaar gelede deur ‘n Mosambiekse spoegkobra gebyt is, te red.
Na Dinsdag se operasie het mense wat landwyd vir haar gebid het, ‘n sug van verligting geslaak toe haar voog, Charmain Robbertse, bevestig dat die vingertjie gered kon word.
Daar is twee penne ingeplant en aan die einde van Januarie sal dokters ‘n stut vir haar handjie bou wat sal sorg dat die vinger en ook haar hand reguit bly. En natuurlik dring Mikayla daarop aan dat dit ‘n pienk stut moet wees.
“Ons is nou in die finale deel van Kayla se reis,” het Charmain Dinsdag na die operasie op Facebook geskryf. - Valerie Cilliers (valerie@noordnuus.co.za)
0 Comments