-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
“Sylvania is nie werklik daarop ingestel om water te bespaar nie. Hul verslag oor waterverbruik ten opsigte van die slikdam deur die beplande myn langs die Nyl se vloedvlakte, toon ernstige gebreke. Die grootste verlies aan water by ‘n myn van
hierdie aard, is deur verdamping. Dit word glad nie in hul verslag aangespreek nie,” so sê Janlo Moller, voormalige chemiese ingenieur in die mynwese en tans boer in die gebied wat deur die voorgenome mynbedrywighede geraak gaan word.
‘n Verdere voorligting deur Sylvania aan geaffekteerde grondeienaars op 21 Januarie by Kanniedood Gastehuis was minder stormagtig as die een van November 2013, maar daar bestaan steeds groot wantroue teenoor die voorgestelde myn.
Die adjunk HUB van Sylvania, Nigel Trevarthen, het verskeie kere verkies om nie kommentaar op vrae en insette vanaf die vloer te lewer nie.
Soos met die vorige vergadering was daar weer verskeie aspekte uit die notule waarmee die aanwesiges ontevrede was, veral oor insette wat deur die geaffekteerde partye gelewer is. Trevarthen het vrese besweer dat daar enige samewerking of samespanning tussen Sylvania en die Ivanplats groep bestaan deur te ontken dat daar plaaslik so iets bestaan of beplan word. Daar is ook geen planne om erts van enige ander myn na die voorgestelde smelter by die Volspruit myn te bring nie weens die geringe grootte van die smelter asook ekonomiese realiteite. Hy wou hom egter nie skriftelik daartoe verbind nie.
Die verwagte opbrengs van die myn is 40 gm/ton weens die lae ertsgehalte, teenoor ander smelters wat 100 tot 150 gm/ton vereis.
Alhoewel die myn se sosiale arbeids-planne vertroulik is, noem hy dat beplanning aan die gang is om met uitgesoekte grondeienaars ‘n wild teelprogram aan te pak waarvolgens Sylvania die wild sal teel en dit dan na plase toe sal aanstuur vir grootmaak en uiteindelike slag by ‘n abattoir in Rustenburg. Hieroor was daar groot ongelukkigheid, met verskeie aanwesiges wat sê dat hulle twee jaar laas daaroor geraadpleeg is, terwyl ander weer kapsie gemaak het oor Sylvania se geheimhou-ding van die name van boere met wie hulle sou gesels het.
Die ondersoek toon dat erts ontginning die Nylrivier gaan ondergrawe. Een van die vrese van grondeienaars is juis dat water uit die rivier na die mynskag sal graviteer, of dat die mynskag hul grondwater sal uitput. In sy aanbieding beweer Dr Giep du Toit, Geo Pollution Technologies, egter dat, gebaseer op sy studie oor die afgelope twee jaar, daar geen verbintenis tussen die rivier en die omliggende gebied se grondwater is nie. Aanwesiges het hom toe vinnig daarop gewys dat die rivier die afgelope twee jaar nooit gevloei het nie. Hulle bevraagteken dus sy bevinding.
In sy aanbieding het Prof Andries Claassens, Grondkunde en Plantvoedings-konsultant, dit gestel dat ‘n groot vloed nodig gaan wees voordat die Nylrivier die omliggende gebied se grondwater sal voed weens ‘n digte kleilaag wat op die rivierbodem neergelê is. Wat tans gebeur, is dat grondwater uit die omliggende gebied eintlik in die rivier in dreineer.
Uit verdere bespreking het dit geblyk dat daar tans waterverbruik vir 650 ha (hektaar) se besproeiing in die geaffekteerde gebied geregistreer is. Die myn voorsien dat sy waterverbruik soortgelyk aan ‘n verdere 160 ha se besproeiing sal wees en dat hy daarvoor aansoek sal doen, maar maak ook die bewering dat hy glo die werklike verbruik tans tot dubbel dit is wat geregistreer is. Daar gaan dus wel kompetisie wees met bestaande besproeiingsbehoeftes in terme van werklike gebruik, maar nie geregistreerde gebruik nie.
Hierdie bestaande oormatige onttrekking van water plaas die hele Nylstelsel stroomaf onder groot druk. Dit word nie voorsien dat wateronttrekking deur die myn ‘n uitwerking stroomop sal hê nie, maar beslis stroomaf vir ‘n aantal jare tydens ontginning. Dit is dus nodig om te bepaal wat die optimale onttrekkingskapasiteit van die stelsel is.
Uit die voorligting oor die visuele impak van die projek blyk dit dat die vereiste toring vir die smeltery ongeveer so hoog soos ‘n 10-verdieping gebou sal wees, terwyl die smelter self heelwat laer sal wees. Die slikdam sal egter ongeveer ‘n kilometer lank wees met die hoogte van ‘n 15-verdieping gebou. Beswaar is deur die aanwesiges uitgespreek dat die sig van verbygaande motoriste op die kompleks skynbaar swaarder geweeg het tydens die visuele impakstudie as die van inwoners wat elke dag daarteen sal moet vaskyk.
Daar word beplan om elektrisiteit van Eskom te verkry. Tans word alternatiewe nie oorweeg nie, maar sou ‘n eie opwekkingsvermoë wel nodig word, word voorsien dat steenkool per spoor aangery sal moet word. Padvervoer sal onekonomies wees.
Emile Honiball, regsverteenwoordiger- en Hilary Knight, voorsitter van die Nyl Aksiegroep, het ten slotte weereens hul frustrasie uitgespreek met sekere fasette van die proses wat gevolg word. Hulle verwag dat die hele proses deursigtig moet wees, maar ervaar dit nie noodwendig so nie.
0 Comments