<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Nou gaan dit oor waardes

 
Hoërskool Piet Potgieter hoof, Jas Hansen, adjunkhoofde - Amy van Deventer en Cas Badenhorst en Deirdre Koekemoer dryf saam die skool se nuwe waardestelsel aan. Hulle staan op die groot valskerm wat op die skool se vierkant geverf is wat leerders en personeel daagliks daaraan herinner dat hulle deur hul waardes daar is om mekaar toe te rus om reg te handel onder enige omstandighede.
News : 31 Jan 2014 473 Viewed 0

Hoërskool Piet Potgieter se personeel, beheerliggaam en leerders het saam besluit om ‘n nuwe rigting in te slaan wanneer dit kom by handhawing van die skool se orde. “Ons gaan nou ‘n waarde-gedrewe skool wees en nie meer ‘n skool wat sy leerders met reëls aan bande probeer lê nie,” verduidelik Deirdre Koekemoer, wat een van die sleutel onderwysers agter dié nuwe inisiatief is.
Vir te veel jare, sê sy, rebelleer skoolkinders nou al teen skoolrëels. “Maar as ons ‘n waardestelsel by ons kinders kan vaslê, waardes wat hulle help kies en hul eie maak, gaan hulle die regte dinge doen sonder dat hulle deur reëls ingekamp word.”
Daarom het leerders en onderwysers saam op ses grondwaardes besluit, wat hulle glo die leerders ‘n rotsvaste fondasie gaan gee en hul gaan toerus vir die lewe as volwassenes. Die waardes is ook elkeen aan ‘n kleur gekoppel. Dit is: nalatenskap - blou, lojaliteit - lemmetjiegroen, empatie - rooi, integriteit - geel, excellence - groen en respek - oranje.
Die eerste letter van elke grondwaarde spel dan ‘n leier as mens dit agtermekaar skryf en saam met die skool se leuse word die waardestelsels se slagspreuk dan: ‘n Leier Handel Reg.
“Dis ‘n nuwe ding hierdie,” gesels die hoof, Jas Hansen. “Eers was dit skoolrëels en die ouens wat nie daarby gehou het nie, het slae gekry. Toe kom die era van mooi-praat en niemand mag gestraf word nie, maar ons as opvoeders moes steeds die reëls probeer afdwing. Dit het nie gewerk nie. Maar hierdie waardestelsel - dit klink vir my reg. Dit klink soos iets wat vir ons en ons leerders gaan werk.”
Die leerders het ook ‘n embleem aan hul waardestelsel gekoppel - die van ‘n valskerm. Die valskerm, verduidelik Deirdre, kom van die verhaal van Charles Plum - ‘n Amerikaanse vegvlieënier tydens die Viëtnam oorlog. Toe sy vliegtuig die dag deur ‘n missiel getref is, het hy uitgeskiet en met sy valskerm agter die vyand se gevegslyne geland. Hy was vir ses jaar ‘n krygsgevangene.
Deesdae gee hy lesings oor wat hy uit hierdie ervaring geleer het. Maar moes onlangs sy lesings aanpas toe ‘n vreemdeling hom in ‘n restaurant nader en voorstel as die een wat sy valskerm gepak het daardie dag toe sy vegvliegtuig afgeskiet is.
Plum het daardie dag besef, was dit nie vir hierdie gewone matroos nie, was hy - die dapper vegvlieënier nie vandag hier om sy heldeverhaal te vertel nie. Deesdae gaan Plum se praatjies oor die ou wat jou valskerm pak -en dit is wie die leerders en onderwysers van Piet Potgieter deur hul waardestelsel vir mekaar wil wees.


Wat was fout met reëls?
Die konsep van waardegedrewe skole is in Suid-Afrika bekendgestel deur die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) wat oor die land heen ’n omvattende projek begin het om die grondslag van skole se benadering van reëls na waardes om te skakel.
“Reëls spreek nie die mens aan nie. Dit word opgedwing,” sê Jaco Deacon, adjunkhoof van Fedsas.
“Waardes is die gom wat ons saambind. Ons sê te veel vir ons kinders wat hulle nie moet doen nie en te min wat hulle moet doen.”
Deirdre  wys ook daarop dat waardes oor ras, kultuur en godsdienstige grense span sonder om hierdie individuele voorkeure te ondermyn.


Internasionale tendens
Die Internasionale Waarde-gebaseerde Onderwys Trust is ‘n welwillendheid
organisasie wat in 2008 deur Neil Hawkes in die Verenigde Koninkryk op die been gebring is om dié Hoërskool Piet Potgieter hoof, Jas Hansen, adjunkhoofde - Amy van Deventer en Cas Badenhorst en Deirdre Koekemoer dryf saam die skool se nuwe waardestelsel aan. Hulle staan op die groot valskerm wat op die skool se vierkant geverf is wat leerders en personeel daagliks daaraan herinner dat hulle deur hul waardes daar is om mekaar toe te rus om reg te handel onder enige omstandighede.onderwysstelsel wêreldwyd te promoveer. Dit is ‘n nie-winsgewende,
a-politiese organisasie met geen godsdiens bande nie en is nie verbonde aan enige
besigheid of korporatiewe organisasie nie.

Laerskole ook
Tydens ‘n reeks verdienste en meriete prysuitdelings by Laerskool Krugerpark, het die skool se hoof, Johan Vertongen, verlede week aangekondig dat Krugerpark ook nou ‘n waarde-gedrewe skool is. Vertongen het die voorbeeld van ‘n nuwe skip gebruik om te verduidelik hoe belangrik goeie grondwaardes is. Hy het gesê ‘n kind sonder goeie waardes is soos ‘n skip wat in die hawe lê, gereed op te vaar met die beste en die nuutste afwerking en toerusting op die dek, maar wat sink omdat daar nooit ‘n laag pik op die romp gesmeer is om die skip te seël nie.
“So is dit met waardes, mens kan dit nie sien nie, maar daarsonder sink ‘n kind wanneer hy eendag die skool verlaat en ‘n grootmens moet wees. Dit is hier, agter die skerms waar ons as onderwysers en ouers moet sorg dat ons kinders nie sink wanneer hulle die regte wêreld moet invaar nie,” het hy gesê.
Krugerpark se grondwaardes is respek, eerlikheid, verantwoordelikheid, deursettingsvermoë en omgee.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube