-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE - Winkeleienaars in Dopperkiaatstraat in Onverwacht is raadop oor karwassers wat krane leegtap om karre onwettig in die parkeerterein langs Marula Square te was.
Munisipale Bestuurder, Bob Naidoo, sê hy het onlangs die terein besoek en het selfs die kraan by die publieke toilet waar water getap word gesluit, maar die kraan is later weer oopgemaak.
Johan du Preez, eienaar van Matimba apteek, sê hy is keelvol vir die spul wat tot baie laat in die aande voor sy winkel staan en mense verhoed om te parkeer. Hy sê veral vroue word geïntimideer.
“Sedert hierdie karwasser hier begin werk het, het winkeldiefstal hier by ons ook toegeneem. Ons het nou al verskeie kere met die munisipaliteit hieroor gepraat, maar niks gebeur nie."
Etienne Victor, eienaar van Nguni Grill stem saam en sê dit help ook nie om die polisie te bel nie.
“Hier sit gereeld mense in die openbaar en drink terwyl hulle karre gewas word.”
Naidoo raai winkeleinaars aan om kriminele aktiwiteite soos winkeldiefstal by die polisie aan te meld. Hy sê hoewel dit munisipale wette is wat verbreek word, is dit die polisie se verantwoordelikheid om wet en orde te handhaaf.
Intussen word dit publiek gevra om eerder van wettige karwasplekke gebruik te maak.
0 Comments