<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Tien jaar vir Noodforum

 
Mokopane Noodforum bestuurder, Eulogia de Wet, sê sy wou eers nie ‘n maatskaplike werker word nie, maar weet vandag dat dit die werk is waartoe God haar geroep het.
News : 07 Feb 2014 154 Viewed 0

Eulogia de Wet (foto), bestuurder van die Mokopane Noodforum, het Dinsdagaand skoon bewoë geraak toe sy tydens dié organisasie se 10de verjaardagviering by die Park Hotel gepraat het oor haar wedervaringe as maatskaplike werkster daar.
Sy het die hoogtepunte en mylpale van die Forum se werksaamhede uitgelig en die Mokopane gemeenskap geloof vir sy betrokkenheid en steun.
Die forum is in 2004 deur kerkleiers en gemeenskapslede op die been gebring om welsynsdienste in die dorp te koördineer, inisieer en uit te bou. Aan die einde van daardie jaar het die Noodforum reeds 753 kospakkies aan minder bevoorregte
gesinne uitgedeel. Die projek is aanvanklik bestuur deur Annemie Coetzee en toe deur Johanna De Bruin. Eulogia het in 2005 die leisels daar oorgeneem.
Een van haar eerste projekte was die Slagoffer Ondersteuningsentrum wat
sedertdien tot ‘n volwaardige projek op sy eie gegroei het met ‘n kantoor by die Polisiekantore in Mokopane en in
Mawhelereng. Die Noodforum ondersteun die projek met ‘n 24-uur noodkamer vir vroue en kinders wat getraumatiseer is deur geweld.
“Ons Voedselpakkies projek het oor ‘n tydperk van 10 jaar reeds sowat 150 000 voedselpakkies aan families verskaf en min of meer 1040 bakkie vragte klere is ontvang gesorteer en versprei aan behoef-tiges, sending uitreike, skuilings, tehuise vir persone met gestremdhede en kinderhuise,” het Eulogia vertel.
Verskeie vaardigheid- en opheffingsprojekte is oor die jare geloods. Behoeftiges verdien by voorbeeld punte vir herwinbare materiale wat hulle by die Noodforum inhandig wat aan hulle dan ruil vir kospakkies. Met hierdie projek verdien die Noodforum nagenoeg R2000 per jaar wat aangewend word om kos te koop wanneer skenkings nie aan al die behoeftes voorsien nie. Dames van die plaaslike vroue landbou unies kom lei gereeld behoeftige vroue op om naaldwerk en borduurwerk te doen. Kwilt en plekmatjies word gestik en borduur om verkoop te word as verdere fondsinsamelingsprojek.
Danksy ‘n boorgat deur die plaaslike Rotariërs het die Noodforum ook groentetuine wat gesonde vars groente in die kospakkies aan behoeftiges verseker.
Surplusse word ook aan die publiek
verkoop om fondse in te samel.
Deur ‘n plaaslike rekenaarvaardigheid sentrum word behoeftiges in basiese
rekenaar programmatuur opgelei om hulle te help om werk te kry.
Een van die Forum se sterk fokuspunte is om vir behoeftiges werk te kry en hulle so weer op hul voete te kry.
“Daar is niks so lekker as om individue en gesinne wat deur die lewe platgeslaan is tot op die vlak waar hulle moet bedel net om te kan eet weer te sien opstaan en mens word nie.” So het Dr. Roelf Opperman, een van die stigterslede van die Noodforum die bevrediging wat mens uit welsynswerk kry beskryf.
Hy het die Forum geloof vir sy werk.
“Julle is besig met ‘n ongelooflike job, ‘n suksesstorie - nie net vir Mokopane nie, maar vir Suid-Afrika. Daar is min plekke in die land waar mense so bymekaarkom en dit vir so lank volhou. Ek wens julle geluk,” het hy aan Eulogia en haar span gesê.

 

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube