<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Oom Willy en die seekoei

 
News : 14 Feb 2014 132 Viewed By Alet van der Walt 0

Dit reën al vir 'n week sonder ophou toe Oom Willy daar by ons aankom. Sy
trekker het vasgeval in die land en Pa moet asseblief kom help, beduie hy. Pa stap brom-brom stoor toe om die groot trekker te gaan haal. Onderlangs mor hy oor mense wat mos kan sien dis te nat vir 'n ploeëry. Ek en Boeta draf opgewonde saam want met al die reën is ons nou ook moeg van die huissittery.
Pa laai die groot sleepketting agterop Oom Willy se ou Datsun en beduie ons moet saam met Oom Willy ry, hy kom agterna met die trekker. Ek sien Oom Willy bekyk die ketting so aandagtig. Met die inklimslag weet ek sommer, dié ketting het ons buurman se gedagtes ver laat draai en in die stilligheid is ek nou bly Pa wou nie dat ons saam met hom op die trekker ry nie.
“Dis nie die eerste maal wat die
Bosveld so baie reën kry nie. In ’58 was dit nog natter en ek het naderhand oorweeg om soos Noag vir my 'n ark te bou. As ek nou 'n ark moes bou sou ek sommer heel eerste die seekoeie gelaai het want jy kan maar sê ek het reeds een op kraal gehad.”
Ek en Boeta kyk vir mekaar, ons het al van baie dinge gehoor maar van mak seekoeie op Oom Willy se plaas weet ons nie.
“Als het mos daai jaar weggespoel, pompe, pype, huise en of 'n ding nou kon roer of nie as dit naby genoeg was het die waters dit gevat. Dit was ander tye daardie. Daar was nie telefone en goed soos vandag nie. Partykeer het dit maar lank gevat om 'n boodskap by iemand uit te kry en voordat ek nog iets kon doen, is die water op ons. Een oomblik is die Limpopo nog so droeërige ou lopie, die volgende sien ek daar gaan my pype en splinternuwe Lister wat ek met die vorige jaar se goeie oes kon koop. Mos grondboontjies geplant. Die pitte was so groot soos kleinerige ertappels. Toe kon ek darem paar nuwe dingetjies koop.
"Ek gaan haal die dik sisaltou onder die afdak want g’n boer wat sy sout werd is gaan sy pompe en goed
sommer laat wegspoel nie, buitendien is ek  'n man wat nie skrik vir water nie. Swem, dié kon ek. Die vrou huil en baklei maar my planne was mooi agtermekaar en ek maak die een punt van die tou stewig om een van die jakkalsbessies op die rivier se wal vas. Met die tou duik ek die rivier in en soek-soek so in die bruin vloedwaters tot ek van die pype en goed kry wat weggespoel het. Ek vat die tou en maak dit stewig vas en swem uit wal toe. Op die wal trap ek, die vrou en ou Karools  vas en so trek ons stuk-stuk alles uit wat die rivier gevat het.
Ons werk heeldag en so ruk na
middagete sê ek vir die vrou ons het nou amper alles terug, dis net die  pomp en een stuk pyp wat nog kort. Dalk het die rivier dit bietjie dieper ingespoel, ek gaan nou 'n ent verder in.
So duik ek en soek. Naderhand is ek gedaan maar my nuwe pomp en pyp is skoonveld. Met die tou om my lyf voel-voel ek in die bruin water en sowaar as vet, daar voel ek die pomp hier vlak by my. Ek bind die tou stewig vas en swem sukkel-sukkel kant toe. Teen die tyd was my go uit en ek sien Karools en die vrou is ook al moeg van die heeldag se werkery op die wal.
"Ons trek en trek maar niks gebeur nie. Die pomp roer nie. Dis so goed jy probeer die aarde homself skuif, hoe harder ons trek, hoe dieper sak ons voete net in die modder weg en die pomp skuif nie een duim nie. Kort-kort rus ons 'n bietjie dan probeer ons maar weer. Karools roep later sy vrou en kinders maar al wat roer is die pomp. Seker aan 'n klip gehaak reken Karools nog, maar daar was g’n niks klippe waar ek geswem het nie.
"Dis toe wat ek vir die vrou sê wat te erg is, is te erg. So kan mens darem nie sukkel nie en ek ry gou oor dat julle oupa met sy trekker kom help.
"Ons maak die toue stewig agter die ou trekkertjie vas en julle oupa trek die vet oop dat die rook sommer sulke bolle by die uitlaatpyp uitkom maar roer, die roer die trekker nie. Hy grou sommer net al dieper vore in die rivierwal. Ek roep Karools en die vrou nader dat ons almal die trekker help en nog een laaste keer probeer.
"Julle oupa tel tot drie en soos een man en 'n trekker trap ons vas en trek daardie tou. Die trekker se wiele gooi sulke dik stukke modder dat ek naand nie kan sien wie is die vrou en wie is Karools nie en toe voel ek, hier gebeur 'n ding. Eers wen ons net so effentjies veld en toe al vinniger. Die trekker brul sommer van lekkerte en hol skoon onder ons uit.
"Ek wil sommer dadelik my nuwe pomp loop haal maar toe ek so omkyk en die ergste modder uit my oë gevee het sien ek nêrens my pomp nie, net die grootste seekoeibul wat ek nog gesien het. Hy lê nog so effens verdwaas op sy rug, pens en pote in die lig en om sy linkeragterpoot is my dik sisal tou stewig vasgebind. - Alet van der Walt

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube