<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Fratsongeluk eis jong man se lewe

 
News : 14 Feb 2014 296 Viewed 0

Geagte Redakteur,
14 Januarie was die ergste dag in ons lewens. My broer, DP Loots (23), het in ‘n fratsontploffing ernstige wonde opgedoen. Ons moes kies wat om te doen: 100km Ellisras toe jaag of 200km Polokwane toe. Ons het besluit om met hom na die MediClinic in Ellisras te jaag. Toe ons daar aankom is hulle so rustig en hulle bly ons verseker geen van sy organe het skade gekry nie. Dít, terwyl die bloed van sy bed afstroom.
Ons het een van die beste mediese fondse tot ons beskikking en het heeltyd geglo dat ‘n helikopter in tye van nood beskikbaar sal wees. Maar toe moet ons hoor dat geen vliegtuie of helikopters in die nag kan vlieg nie omdat daar nie merkers op die berge is nie. Daar was nog ten minste twee ure se lig oor op hierdie stadium. Die MediClinic het ook vir ons gesê dat daar swaar weer op pad was, maar toe my pa agter die ambulans aangery het, was daar tot in Pretoria geen teken van swaar weer nie.
Nadat hulle amper ‘n uur geneem het om X-strale te neem het die dokter vergeet om die X-strale aan die ambulanspersoneel te gee toe my broer opgelaai is. Ek en my man moes agter hulle aanry met die X-strale. Die dokter by Meulmed het die wond een kyk gegee en gesê dit is ‘n lewer wond, waarom was X-strale dan nodig?
Ons voel dat die hospitaal kosbare tyd gemors het. Nadat hulle alles hier uiteindelik reg het en na hope papierwerk het my boetie in Pretoria aangekom waar ons nog ‘n uur by Meulmed gewag het! Die hartseerste is dat hy so geveg het om te bly leef, maar die mense wat hom moes help het nie geveg nie! Hy het op die ou einde doodgebloei.
Hoeveel van ons hier in die Bosveld het medies wat ‘n helikopter insluit? Hoe kan die berge nie gemerk wees nie? 
Miljoene rande is gespandeer vir ‘n nuwe hospitaal. Daar is nie spesialiste nie, dus is dit eintlik nie reg om vir ‘n mens hoop te gee dat daar ‘n noodgevalle-eenheid is nie. Hulle sal moet sê dis net vir gewone goedjies - lewe en dood sake kan hul nie hanteer nie!
Die MediClinic was die antwoord op so baie se gebede, want ons bly so vêr, maar sonder spesialiste help dit ons nog steeds niks. Hoe bou mens 'n hospitaal met ‘n noodeenheid as daar van dag een af nie die regte dokters teenwoordig is nie? 
Baklei sal my broer nooit weer kan terug bring nie, al wat ek kan sê is maak seker jy is reg en voorbereid as so iets oor jou pad kom. - Frieda Coetzee (Brief verkort. Red)

Reaksie van MediClinic

MediClinic Lephalale is opreg saam met die familie hartseer oor die verlies en ons het in-diepte ondersoek ingestel rakende hierdie geval en watter leemtes in ons diensverskaffing daar mag bestaan waarop verbeter kan word.
Ons kliniese span het wel vasgestel dat prosedure gevolg is en dat die spanne op hospitaalvlak alles in hul vermoë gedoen het om die pasiënt te stabiliseer en so gou moontlik oor te plaas na ‘n meer gepaste fasiliteit waar behandeling ook so spoedig en intensief as moontlik toegepas is. Die prosedure is dat verwysings na groter hospitale, binne ons groep of na ander hospitale, goed gekoördineerd verloop het en dat die keuse van fasiliteit altyd in die beste belang van die pasiënt geneem word. Ons ondersoekspan se bevinding was dat dit wel die geval was hier, onder moeilike omstandighede.
Die familie is welkom om met ons in verbinding te tree vir verdere besonderhede rakende die ondersoek en ons wens hulle weereens baie sterkte toe.”
MediClinic Lephalale is daar om ‘n
diens te lewer aan die gemeenskap en ons is trots op die fasiliteit wat effektiewe basiese kliniese dienste aanbied wat meeste van die dag-tot-dag gevalle effektief kan hanteer, terwyl groot komplekse multi-trauma gevalle soos hier ter sprake op die beste gestabiliseer kan word en dan na groter infrastruktuur-hospitale verwys word.”
- Andries Engelbrecht, Hospitaal Bestuurder, MediClinic Lephalale

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube