<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Kobra pik vrou in haar bed

 
Marius Koekemoer met die Mosambiekse spoegkobra wat hy Woensdag na ‘n lang gesoek in 'n wasgoedmandjie in die badkamer gekry het.
News : 14 Feb 2014 536 Viewed By Valerie Cilliers 0

‘n Oud-inwoner van Lephalale, wat op ‘n plaas naby die Tafelkoppe grootgeword en ook hier skoolgegaan het, is Woensdagoggend net na 01:00 in haar bed deur ‘n Mosambiekse spoegkobra gepik.
Die oud-onderwyseres wat drie jaar gelede teruggetrek het Bosveld toe om by Sable Hills af te tree, vertel dat sy wakker geword het met ‘n ontsaglike pyn aan haar linker hand.
“Ek het nie vir ‘n oomblik gedink dat dit ‘n slang kan wees nie, maar toe my man die
kopkussing oplig het ek met skok besef dat ek gepik is. Die slang het oor die ander kussing geseil en al wat ek geweet het is dat ek daar moet wegkom. Ons het die deur toegetrek en gaan hulp soek by bure. Hulle het ons aangeraai om so gou moontlik by ‘n hospitaal uit te kom aangesien daar nie selfoonopvangs is nie.”
Sy vertel dat sy die hele pad, tot by die MediClinic in Lephalale gebid het.
“Ek het nooit besef hoe siek ‘n mens van skok kan word nie. Die verpleegpersoneel by die hospitaal het my egter gerus gestel. Hulle was baie kalm en het presies geweet wat om te doen. Ek is baie dankbaar vir die behandeling  wat ek ontvang het,” vertel sy vanuit haar hospitaalbed waar sy nou reeds aansterk.
Marius Koekemoer van Reptile Rescue is Woensdagoggend na Sable Hills toe om die slang te gaan vang. Hy het bevestig dat die byt soos die van ’n Mosambiekse spoeg-kobra lyk en hy vermoed dat die slang ten minste ‘n meter lank moet wees. Dr Willie Barnard was vroeg Woensdagoggend daar en het Koekemoer se vermoede bevestig.
Die hospitaal bestuurder, Andries Engelbrecht, het aan Noordelike Nuus gesê dat daar die afgelope ruk ten minste twee slangbyt gevalle per week by die hospitaal aangemeld word.
Koekemoer se raad aan slagoffers van slangbyte is om so gou as moontlik by ‘n hospitaal uit te kom. Moet nie die wond toedraai nie. Hou die pasiënt kalm en kry so gou as moontlik hulp! - Valerie Cilliers (valerie@noordnuus.co.za)

 

 

 
 

Kan die merk waar die Mosambiekse kobra die vrou gepik het duidelik gesien word. Slangbyte moet so gou as moontlik behandel word.
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube