-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE - ‘n Vermeende renosterstroper is Maandagmiddag net na 17:00 in die middedorp van Lephalale deur plaaslike boere en lede van die polisie vasgetrek.
Die man, wat van Mpumalanga afkomstig is, was veronderstel om drie van sy makkers per motor op te laai ná hulle verwoestende strooptog op ‘n plaas net buite Lephalale vroeg Maandagoggend.
Die drie se spore is op die plaas Zonderwater opgemerk waar hulle op die spoor van ‘n renosterkoei was. Haar onthoringde karkas is later die oggend aangetref. Die drie het van daar af aanbeweeg en nog ‘n renoster gekwes voordat hulle met die hulp van helikopters vasgetrek is. Hulle was in daardie stadium in besit van die koei se twee horings, haar stert, ‘n 30-06-jaggeweer met ‘n knaldemper, ‘n saag en verskeie messe.
Die verdagtes kon ‘n beskrywing gee van die voertuig wat hulle sou kom oplaai en het op aandrang van die polisie en boere die vierde verdagte op sy selfoon gebel om hulle te kom haal. Hy het vir hulle gesê dat hy besig was om sy kar by die Mogolrivier te was, maar dat hy op pad is. Sy voertuig is kort daarna in die dorp opgemerk. Een van die ondersoekbeamp-tes het sy nommer gebel en toe hy die foon antwoord is hy op die plek gearresteer.
Al vier het hierdie week in die Lephalale hof op aanklag van wilddiefstal verskyn. Een van die mans is ‘n plaaslike inwoner en twee is van Zimbabwe.
Die gekweste renoster is na ‘n plek van veiligheid geneem. - Valerie Cilliers (valerie@noordnuus.co.za)
0 Comments