<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Kospakkies koop nuwe baadjie vir eetplek

 
Nicolene Venter en Lorinda Dekker, die twee dames wat bevrore etes gemaak het om te betaal vir opknapwerk aan die Strelitzia Restaurant by Hoërskool Piet Potgieter. Hierdie is die laaste keer wat Lorinda as Mej. Dekker in die koerant verskyn. Van more af is sy Mev. Dos Santos. Noordelike Nuus wens haar en Marcello voorspoed met hul troudag en jare van seën in hul huwelik toe.
News : 02 Mar 2014 151 Viewed By Jasper Raats 0

Die twee dames moes maar self planne maak om fondse in te samel.
Hulle het na ‘n lang gesoek vir die eienaar van ‘n R200-noot wat hulle by ‘n sportdag opgetel het, besluit om hierdie geld saam met die R80 wat hulle vir die verkoop van ‘n bak lasagne gekry het as wegspringkapitaal vir hul insamelingsprojek te gebruik.
“Ons het bestanddele gekoop en lasagne, bobotie en pasteie in foeliebakke gemaak, gevries en verkoop aan die publiek,” vertel Nicolene.
Ouers en die gemeenskap het die projek met oorgawe ondersteun en Lorinda en Nicolene moes behoorlik bontstaan om voor te bly met bestellings. Binne ses maande het hulle R22 000 ingesamel.
“Ons het R7 wins per bakkie gemaak, so jy kan dink hoeveel bakkies kos ons die afgelope tyd gemaak het,” sê Nicolene, en Lorinda voeg by dat hulle die pasta self gemaak en gerol het om te verseker hulle maak nog wins teen R25 per bakkie.
Die twee dames het die plaaslike media hierdie week gewys hoe lyk die vrugte van hul harde werk. Met sindelike aardse kleure, warm beligting en ‘n indrukwekkende versameling skilderye teen die mure sal ‘n mens vergewe word as jy dink jy is in een van Gauteng se spog-uithangplekke.
Die Restaurant word bedryf as deel van die skool se gasvryheidstudie-leerders se praktiese opleiding.
Dit is hier waar leerders tydens restaurantaande soos ware restauranteurs die geleentheid kry om in die kombuis te werk of te bedien.
Lede van die publiek is welkom om hulle kookkuns en diens te kom ervaar tydens die Graad 12 Restaurantaand op 11 en 12 Maart.
Kaartjies vir ‘n 5-gang maaltyd beloop R120 per persoon. Hou ook die Noordelike Nuus dop vir die volgende restaurantaande se datums.
Nicolene en Lorinda het hulle dank uitgespreek teenoor almal wat die opgrade-ring moontlik gemaak het.
Hulle is: Korny en Sonia Dekker, Karen Blignaut, Delene en Freddy van Eyk, Pierre Peens, Rina Krynauw, Johana de Bruyn, Piet de Bruyn, Rolette de Beer, Marietjie Kruger en elke persoon wat ‘n bakkie lasagne, bobotie of ‘n pastei bestel het.
Die restaurant kan ook bespreek word vir private funksies en besigheidsetes of vergaderings.
Skakel Nicolene by 084 251 1446 vir meer inligting of besprekings.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube