-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
“Suikerbossie!” sê Barrie en dan trek hy weg met sy Boerkonsertina. Die res van die orkes val in en skielik is mens dankbaar dat daar nog plaashuise soos hierdie in die Bosveld is. Huise waar kinders kaalvoet op gepoleerde sementvloere na-
der skuifel om te luister hoe die grootmense musiek maak, huise waar gades, vriende en familie saam met die musikante in die sitkamer kuier terwyl konsertina en kitaarmelodie flankeer met die die skemeraand wat by die voordeur inloer.
“Jissie, ons het Tannie gemis,” sê Barrie vir Tannie Henna ná Suikerbossie. Tannie Henna het vir ‘n ruk nie saam met die orkes gespeel nie. Rumatiek in twee van haar drukhand se vingers keil haar op. Maar sy mis die orkes en die musiek te veel. Nou gebruik sy maar haar ander twee vingers - en dit klink of sy goed regkom.
“Duitswes Wals!” sê Barrie en die Orkes vat weer vlam - hierdie keer met die Engelse konsertina. Wessie se voete lyk of hulle ‘n wil van hul eie het, asof hulle hom net daar op die stoel gaan los en op hul eie oor die voorhuis se vloer gaan dans - dalk selfs ‘n draai om die kombuistafel gaan maak.
PW Botha was nog aan bewind toe meeste van die Waterberg orkeslede matriek gemaak het. Hulle is dus heelwat jonger as die meeste boeremusiekmakers in die Bosveld. Dis nou met die uitsondering van Tannie Henna. Dan is daar ook Oom Hans Bothma en Oom Fanie du Plessis wat nou en dan by die orkes inval.
Barrie, die leier van die orkes, sê hy het in 2 000 eers sy eerste konsertina gekoop. Hy het op 31 eers besluit hy wil konsertina leer speel.
“Ek het in die 90’s as polisieman by die lughawe gewerk - toe was dit nog Jan Smuts. Daar het ek die boeremusiek legende, Oom Nick Potgieter, ontmoet.”
Min het Barrie daardie jare geweet hy sou later by Oom Nick aanklop vir ‘n paar konsertina lesse.
“Hy’t my maar gewys hoe die ding werk. Iemand kan jou nie regtig konsertina leer speel nie. Jy moet hom self ‘uitfigure’,” sê hy. Toe hy die konsertina onder die knie het, het hy sommer aangehou en homself kitaar ook leer speel.
Riana, ‘n meisie uit Vryheid in Natal, het ‘n stem soos ‘n engel. Sy sing al vandat sy tien jaar oud is en het voorheen gesing en musiek gemaak vir die Jacaranda Boere en Country Orkes.
Sy het haar musiektalent van haar pa geërf. Hy kon 14 instrumente bespeel en het haar geleer om kitaar, trekklavier en die elektriese orrel te speel.
Hier in Mokopane het sy by Pinky & the Brain kleuterskool gewerk en saam met Oom Hans en Oom Fanie begin speel. Later het sy by die Waterberg Boereorkes ingeskakel.
Wessie se musiekloopbaan het in sy weermagjare begin waar hy baskitaar gespeel het in ‘n orkes daar. Hy was ook vir agt jaar lank lid van die weermag se
vermaaklikheidgroep. Hy sê sy talent en liefde vir musiek kom van sy ma en sy oupa se kant af.
Tannie Henna is die hele orkes een voor. Sy is die enigste lid met formele
musiekopleiding en ook die enigste een wat musiek kan lees. Sy het ‘n liefde vir boeremusiek by haar pa aangeleer. Hy self was lid van ‘n boere-orkes, die Vierman-skap.
Maar dit is genoeg gepraat vir eers. Die orkes wil speel en almal is dit eens dat Riana moet sing. Haar stem sny deur die aandlug en laat mens verlang na mense wat jy nie ken nie en plekke waar jy nog nooit was nie. As sy in Amerika gebly het was sy verseker een van daai Country
supersterre.
Direk daarna speel hulle DKW kaperjol, een van Barrie se eie komposisies. Barrie is ‘n DKW-entoesias en het ‘n hele ver-sameling van dié ou motortjies in verskeie fases van restourasie.
En hoewel boeremusiek derde op sy prioriteitslys lê naas rugby en die veteraanmotortjies, is dit met die musiek wat hy en sy orkes uitblink.
Hulle het verlede jaar tydens die Boere-musiek Gilde se nasionale kompetisie ‘n tweede plek in die Noord streek behaal en vierde algeheel in Suid-Afrika geëindig in die tradisioneel-opkomende afdeling.
Die Waterberg Boereorkes speel ge-reeld by die Naboomspruit Boeremusiek Gilde se samekomste en is ook dikwels by geleenthede in en om Mokopane te sien. Hou gerus die Noordelike Nuus dop vir meer nuus oor hul optredes.
0 Comments