-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Toe ek hom weer daar raakloop, waar hy met sy veldhoed en karwag baadjie in die son staan, vind ek uit sy naam is Manie Venter.
Hy sê hy was voorheen ‘n winkelsentrum bestuurder in Nelspruit, maar toe hy sy werk verloor, het hy uit desperaatheid begin motors oppas. Voordat hy twee jaar gelede na Lephalale verhuis het, was hy karwag in Pretoria, maar hy meen dit is baie beter en makliker hier. “Ek het aanvanklik hierheen gekom met die hoop om werk op Medupi te kry. Toe dit nie uitwerk nie, het ek maar gedoen wat ek die beste ken - karre oppas.”
Ek wil hom vra of ons nie eerder in die koelte kan staan en gesels nie, maar besef gou daar is nie so iets nie. Die Bosveldson brand my kopvel, maar ek wil meer uitvind oor die oom wat my so
bietjie aan Oom Angus Buchan laat dink.
“As mense net besef dat die Here lief is vir ons almal, maak nie saak wie jy is of watse werk jy doen nie - ja ek dink as mense dit besef, sal hulle beslis vriendeliker wees,” gesels hy.
Met sy tweerigtingradio wat hom in verbinding hou met die sekuriteitswagte, is hy voortdurend op die uitkyk vir mense wat verdag optree. “Mense dink hier is nie misdaad in Lephalale nie, maar hulle sal verbaas wees. Mense besef nie hoeveel inbrake ons al gekeer het terwyl hulle
inkopies doen nie.”
Ek vra vir Manie of hy gehoor het van die twee karwagte wat vroeër die week in Pretoria doodgeskiet is toe hulle ‘n kaping wou keer. “Ja,” sê hy, “maar dit is malligheid om gewapende rowers so te konfronteer. ‘n Kar is nie jou lewe werd nie. Ons karwagte is hier om ons oë oop te hou en die sekuriteit te roep as daar moeilikheid is. Vandat hier karwagte by hierdie sentrum is, is daar nog nie ‘n kar gesteel nie,” sê hy trots. “Ons is almal geakkrediteer en gesertifiseer deur SIRA.”
Manie en sy kollegas werk vir fooitjies en kry nie ‘n salaris nie. “Ons betaal maandeliks ‘n klein bedraggie om hier te kan werk. Dit is gelukkig baie minder as wat jy in Pretoria betaal. Die fooitjies wat ons kry hou ons aan die lewe, ons moet almal huur betaal en kos koop soos enige ander inwoner hier. Hoewel die son ons amper gaar brand geniet ek dit om met mense te gesels. ‘n Mens kry wonderlike mense hier in Lephalale wat graag vir jou ‘n fooitjie gee. En dan is daar dié wat niks van karwagte hou nie, en hulle laat jou dit ook goed verstaan. Maar ek laat my nie deur hulle afsit nie. Die Here voorsien
altyd, ek sien Sy hand in elke glimlag,fooitjie of selfs ‘n koeldrankie of twee wat na my kant toe kom.”
0 Comments