<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Giftige slange is meer algemeen as wat jy dink

 
Boomslang mannetjie.
News : 06 Mar 2014 3995 Viewed By Valerie Cilliers 0

Slange met Neurotoksiese gif:

Die swart mamba en die wipneuskobra val albei in die eerste groep. Neurotoksiese gif verlam die slagoffer se spiere, en veroorsaak uiteindelik dood deur die suurstoftekort wat die gevolg is van asemhaling spierverlamming. Hierdie is ‘n vinnig werkende gif.
Simptome: Slagoffers van hierdie byt kan binne 15 minute simptome van die gif ervaar. Spraak, sluk en oogbewegings word aangetas. Later
begin die slagoffer sukkel om asem te haal.
Behandeling: Hou die persoon kalm. Kom so gou moontlik by ‘n hospitaal uit. Op pad hospitaal toe moet die slagoffer se asemhaling dopgehou word. KPR, veral kunsmatige asemhaling, kan lewensreddend wees. Dit kan deur middel van ‘n ‘Ambusak’ (verkieslik) of mond-tot-mond asemhaling toegedien word.
Kenmerke: Die swartmamba is loodgrys van kleur en die binnekant van die bek van die slang is swart. Die kop is gevorm soos ‘n doodskis. Hierdie slang word gemiddeld 2,7m lank, maar kan tot 4m lank word. Die slang is skaam en skugter en sal eerder mense vermy.
Die Wipneuskobra is altyd geel aan die onderkant met breë swart bande of geen bande nie. Hy word ook soms die lap slang genoem as hy in die gebande fase is. Hy word gemiddeld 2,5m lank.

Slange met sitotoksiese gif:

Die Pofadder, Mosambiekse spoegkobra en Suidelike sypikslang het sitotoksiese gif wat die weefsel om die bytplek vernietig.
Simptome: Die plek waar die byt voorkom begin om te swel en die pasiënt ervaar baie pyn.
Behandeling: Hou die persoon kalm. Verwyder alle juwele of kleding naby die bytplek. Moenie die verspreiding van die gif probeer keer met iets soos ‘n verband of toerniket nie. Hoe meer die gif op een plek gekonsentreer is hoe groter die skade. Sny dus broekspype of moue oop. Verwyder skoene indien die persoon aan die voet gebyt is.
Slanggif in die oë: Indien die persoon in die oë gespoeg is deur 'n Mosambiekse spoegkobra moet die oë met water uitgespoel word (nie melk nie!) en kom so gou moontlik by 'n hospitaal uit.
Kenmerke: Die Pofadder se vel het ‘n herhaalde patroon. Dit is ‘n kort slang wat gemiddeld maar ‘n meter lank word. Die kop en die nek kan duidelik van mekaar onderskei word. Hy het ‘n drie-hoekige kop en het die vinnigste byt aksie van al die slange.
Die Mosambiekse spoegkobra het ‘n eweredige bruin kleur op die rug met swart kringetjies om elke skub. (visnet patroon). Sy maag en keel is salmon pienk met ‘n paar swart bande. Sy gemiddelde grootte is 1,4m en is die enigste slang in die Bosveld wat gif spoeg. Die slang is baie lief daarvoor om in warm plekke in huise in te kruip.
Die sypikslang word ongeveer 40cm lank. Dit is pikswart bo en spierwit onder die pens. Die bek is pienk binne. Hierdie slang pik met ‘n sydelingse beweging (vandaar die naam), en daar is gewoonlik net een tandmerk by die bytplek.


Slange met hemotoksiese gif:

Die boomslang en voëlslang se gif is hemotoksies (bloedgiftig). Dit is 'n baie stadig werkende gif en tas die bloed van die slagoffer aan.
Indien die slagoffer sterf is dit as gevolg van die komplikasies van inwendige bloe-ding. ‘n Slagoffer moet vir ten minste 48-uur geobserveer word.
Simptome: Erge hoofpyn en ongemak. Na ‘n paar uur: neusbloeding, bloed bra-king, bloed in die uriene, en uitbreiding van kneuswonde.
Behandeling: Hou die persoon kalm en kom so gou as moontlik by ‘n hospitaal uit. In die geval van die boomslang, word boomslang-spesifieke teengif bestel en toegedien. Vir voëlslanggif is daar geen teengif nie, en die behandeling is simptomaties. Die behandeling vereis gewoonlik ook ‘n bloedoortapping en die proses van herstel is lank.
Kenmerke: Die boomslang het 'n ronde kop en groot oë. Die mannetjie is helder groen en word dikwels met die groen mamba, wat nie natuurlik in die Bosveld voorkom nie, verwar. Die wyfie is grys of bruin en het ook baie groot oë. Die slang blaas sy keel op as hy kwaad is en kan tot 1,8m lank word.
Die voëlslang lyk soos 'n tak en het 'n spiesvormige kop. Soos die boomslang is dit ook 'n agtertand slang wat sy keel opblaas as hy kwaad is. Die slang is uiters goed gekamoefleer in bome en lê ook dikwels op drade. Sy gemiddelde lengte is 1,4m.
Dikwels word gevra of plaasbewoners in ons gebied ampules slang teengif in die yskas behoort te hou. Die kort antwoord is: “Nee, kry liewers ‘n ambusak en leer om dit te gebruik!”

 

 

 
 

Boomslang wyfie.
Voëlslang
Mozambiekse spoegkobra
Pofadder
Wipneuskobra baba
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube