<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Satanisme is ‘n realiteit

 
Dr Kobus Jonker gesels met jongmense tydens sy onlangse besoek aan Lephalale.
News : 06 Mar 2014 698 Viewed By Valerie Cilliers 0

Vandag, 14 jaar nadat hy uit die diens getree het, word hy steeds gereken as een van die voorste kenners op die gebied van die okkulte en staan hy die polisie steeds by in hulle ondersoeke. By ‘n praatjie oor Satanisme by Ellisras Hoërskool verlede Woensdagaand, het Dr Jonker ook nie doekies omgedraai nie.
Op ‘n tri-projektor het beelde van pentagramme wat op vloere geteken is, swart kerse, geslagde katte en bybels wat met bloed besmeer is, sy punt gestaaf: Satanisme is ‘n realiteit in ons samelewing.
Dit was slegs enkele dae voor die praatjie in Lephalale dat Dr Jonker se kundigheid ingeroep is oor twee tiener meisies van Soweto wat vermoedelik in ‘n sataniese ritueel vermoor is.
Hy het tieners in die gehoor gewaarsku: bly weg van 'n bloedeed, speletjies wat met die okkulte verbind word, “piercings”, musiek wat godslasterlik is, Halloween bedrywighede, rekenaarspeletjies wat die okkulte weerspieël en selfs sekere speelgoed. Hy vertel dat hy onlangs in ‘n speelgoedwinkel op ‘n voodoo pop afgekom het. Saam met die voodoo pop is ‘n stel instruksies oor hoe iemand “gestraf” kan word deur spelde in die pop te steek. “Hierdie tipe speelgoed, musiek en selfs vakansie dae word nie noodwendig aan Satanisme verbind nie, maar kan ‘n kind se nuuskierigheid prikkel om sodoende in die okkulte betrokke te raak,” het hy aan die gehoor gesê.
Hy het ouers gemaan om in hulle kinders se lewens betrokke te wees. “Jy as ouer het die reg om in jou kind se kamer in te gaan en ondersoek in te stel. Kyk wat op sy rekenaar is, luister na die musiek waarna hy of sy luister. Ek moes al keer op keer saam met ouers langs die lyk van hul kind wat selfmoord gepleeg het staan en aan hulle die tekens uitwys. In een geval het ‘n kind wat in die okkulte betrokke geraak het sy eie selfmoord op die muur geteken, selfs die dag waarop hy dit sou doen is  uitgebeeld, maar die ouers het dit nie raakgesien nie. “
Dit is nie Dr Jonker se eerste besoek aan Lephalale nie, hy vertel dat hy jare gelede hierheen ontbied is om ‘n saak te ondersoek. “Mense moet nie dink dat daar nie Satanisme in klein dorpies is nie, regoor ons land word kinders hierby ingetrek deur die belofte van mag. Dit is veral kinders wat trauma aan die hand van iemand anders beleef het en magteloos voel wat in die strik trap. Die probleem is dat as jy eers daarby betrokke is, is dit baie moeilik om daar uit te kom.”
Jonker het egter ook van die voormalige eenheid en sy eie suksesse vertel waar kinders wel uit die greep van Satanisme gered is. “Satan se plan word vir ons baie duidelik in die Woord uitgewys. Hy het gekom om te steel, slag en verwoes, maar Jesus het gekom om aan ons lewe in oor-vloed te gee. Weens die prys wat Christus aan die kruis betaal het is daar kans vir kinders om uit hierdie doodsgreep te kom. Dit is belangrik dat ons bewus sal wees van Satan se planne, maar ook sal weet dat daar in Christus oorwinning is.”
Dr Jonker het reeds 11 boeke geskryf en sy praatjies is op DVD beskikbaar.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube