<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Kamer is bekommerd oor water

 
Die Mokopane besigheidskamer se nuwe bestuurskomitee vir 2014 is van links voor: Lunessa Jouberrt, Sanél Honiball, Dalene van Eyk, Andy Goetsch, Blackie Swart en Francois du Toit. Agter is Gerrit van der Veen, Corinus du Toit en Klasie le Roux. Afwesig: Piet de Bruyn, Ford Winnertz en Hilary Knight.
News : 06 Mar 2014 122 Viewed By Jasper Raats 0

Die kamer se voorsitter, Gerrit van der Veen het ook sy kommer uitgespreek oor die hoeveelheid water wat die Mogala-kwena munisipaliteit uit die omgewing se grondwaterbronne onttrek.
Hy het daarop gewys dat boorgate in die Oorlogsfontein-omgewing reeds opgedroog het sedert die munisipaliteit op boorgatwater vir die dorp begin staatmaak het.
Van der Veen sê die feit dat daar geen duidelike aanduiding is van hoeveel water die munisipaliteit onttrek nie, beteken die dorp se mense weet nie hoe afhanklik hulle van hierdie water is nie. Selfs ‘n geringe impak deur die beplande Volspruit myn van Sylvania Platinum net Suid van die dorp kan dus rampsoedige gevolge vir Mokopane se inwoners inhou.
Andy Goetsch het ook sy frustrasie met die munisipaliteit te kenne gegee in sy terugvoer aan lede oor die kamer se skakeling met die plaaslike owerhede. “Ons het vir baie lank baie goed met die munisipaliteit saamgewerk, maar verlede jaar was dit of daardie samewerking net doodgeloop het.”
Hy het dit toegeskryf aan die politieke onstuimighede binne die ANC en die magstryd tussen die munisipale bestuurder, William Kekakana en die geskorsde burgemeester, Thlalefi Mashemaite.
“Ons hoop dit gaan nou beter dat die burgemeester en sy travante geskors is,” het hy gesê.
Corinus du Toit van die Afrikaanse Handels Instituut het plaaslike sakemanne aangemoedig om by die besigheidskamer aan te sluit. Hy het daarop gewys dat ledegetalle die kamer se hand versterk in onderhandelinge met die owerhede en ook met korporatiewe instansies soos mynmaatskappye wat in die dorp wil besigheid doen.
Die Mokopane besigheidskamer is een van die oudste sakekamers in die land en beywer hom as ‘n drukgroep vir sakebelange, om besigheidsbeleggings van buite die dorp te lok, om besigheidshulp aan nuwe sakemanne en vroue te verleen en om opvoedkundige programme en netwerkgeleenthede vir sy lede daar te stel.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube