-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Dit is die eerste keer wat ons saam met Pa gaan jag en Oom Willy gaan saam. Terwyl ons die bakkie laai vertel hy van die grootste koedoe wat hy ooit geskiet het. Die koedoe se biltonge was so lank hulle moes die draad waaraan dit gehang het ekstra hoog span. Boeta vra hoekom hulle nie maar net die biltonge middeldeur gesny het nie maar Oom Willy gee hom net 'n vuil kyk voor ons almal in die bakkie klim en in die pad val.
Dis reeds lekker warm toe Pa van die grootpad afdraai op die bospaadjie wat tot by die jagkamp loop. Die pad is lank en sanderig en ons kry die een draadhek na die ander. Party is regte bekslaners en dan sukkel ek en Boeta om hulle oop te maak. Oom Willy klim dan maar brom-brom uit met sy groot blikbeker met 'n “ietsie” daarin en maak die moeilike hekke oop. As hy terugklim knyp hy die blikbeker tussen sy bene vas en dan moet Pa wag dat hy eers “optop.”
Net voor ons deur 'n diep sloot ry kry ons die laaste hek en Oom Willy moet weer oopmaak want dis 'n lelike bekslaner van 'n hek. Pa sê hy gaan eers deur die sloot ry en dan stop want die sloot is erg vol sand gespoel en net-nou val die trokkie vas. Oom Willy sit sy beker met die ietsie so langs die hekpaal neer en maak oop dat ons kan deurry, Pa gee vet en laat waai deur die sand sloot voordat hy stop en vir Oom Willy wag.
Ons begin Pa uitvra oor die bokke wat in die mopanieveld loop en ons kom nie agter Oom Willy vat bietjie lank om te kom nie. Eers toe hy die trokkie se deur oopmaak sien ons hier het nou 'n ding gebeur.
“Nou wat nou, Willy, het jy geval?” vra Pa want Oom Willy se hemp is vol nat kolle en sy arms en gesig is die ene sand. Oom Willy vryf die sand van sy arms en gesig af en skud sy hemp skoon, hy buk en trek sy skoene een-vir-een uit en skud dié ook uit.
“Nee buurman, dit was nou amper-amper 'n lelike ding. Pleks julle my kom help het, ek kon dood gewees het! As ek maar net geval het, dan was dit nou niks nie maar toe jy so vet gee en deur die sand jaag dink ek nee, ek gaan sommer gou 'n draai ook loop.
Man, net toe ek so agter 'n Mopanie boompie wil gaan staan, toe voel ek iets val nou hier van bo af op my. Die volgende oomblik besef ek vandag is dit die dag wat my einde naby is want toe voel ek hoe die luislang sy lyf hier om my begin kronkel.
Al vegtende val ek met slang en al op die grond en ek probeer rol om weg te kom maar die satan het my. Hy trek sy stert so netjies soos 'n stel voetboeie om my enkels vas en lek my sopnat en slymerig. Toe hy tevrede is dat ek maklik sal afsluk maak hy daardie lelike bek wyd oop om dit oor my kop te trek. Op daardie oomblik rol ek so slag om sodat ek vol sand is. Die gedierte maak toe weer sy bek toe en begin om die sand van my af te lek.
Nes die slang my skoon het en sy bek begin ooprek vir die slukslag kry ek dit reg om weer om te rol en dan is ek die ene sand. Dan los die fiemiesrige addergebroedsel weer sy plan en begin weer om my skoon te lek. So na die vyfde of sesde keer, ek kon nie nog tel ook nie, toe kom ek agter die slang se bek raak nou droog en hy begin sukkel om my behoorlik glad gelek te kry.
Jy sal my nie glo nie, so wraggies, hy probeer toe om sy tong in my beker te druk agter die nattigheid aan. Dit was seker die eerste keer wat so 'n slang 'n ordentlike skoot Bosveld mampoer gekry het want die volgende oomblik lyk hy meer na 'n molslang as 'n luislang en ek voel sommer hoe hy skiet gee en my laat los. As dit nou nie vir my mampoer was nie, dan weet ek nie.”
0 Comments