<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Vloedwaters - gemeenskap staan saam

 
News : 13 Mar 2014 856 Viewed By Valerie Cilliers 0

Charmain wink vir Valerie om in te kom terwyl sy oor die telefoon ‘n helikopter reël om iemand te gaan red wat so 6km buite die dorp van die nuwe Vaalwaterpad afgespoel het. Die man se vrou het gebel, Charmain moet asseblief iemand stuur. Vinnig is dit gereël, maar nog voor die helikopter daar kan kom het bure klaar die man bygestaan. En dit is hoe dit hierdie hele week in Lephalale gegaan Dinsdagoggend stap ek (Noordelike Nuus se Valerie Cilliers) by Charmain Robbertse se huis in Lephalale in. Dit lyk en klink behoorlik soos ‘n rampbestuursentrum. Die telefoon lui onophoudelik, brood, melk en allerlei kosse en voorraad staan haar sitkamer vol.het.
Soos een man het ‘n dorp saamgestaan om slagoffers van die 2014 vloede (soos wat dit in jare vorentoe bekend sal staan) te help. Daar is brode, vragte groente, houers vol water, gasbottels, toiletpapier, hondekos, mieliemeel, medisyne, bote, bakkies, vragmotors en selfs helikopters geskenk. Die lys van skenkers is te lank om op te noem.
Tussen oproepe deur dra ons pakkies na die voorhek toe. Rudi Hayse is op pad met ‘n vragmotor om die voorraad en vir my te kom haal om deur die vloedwater te ry tot by die helikopter wat ons dan Baviaanshoek hoewes toe sal neem. Dit is die soveelste keer dat die eienaar van die helikopter (‘n samaritaan wat verkies om anoniem te bly) op eie onkoste vlieg Baviaanshoek toe.
Die weldoener nooi Noordelike Nuus om saam te vlieg oor die dorp. Saam met ons vlieg paramedikus, Erik Rowlands.
Ons moet eerste stop by ‘n seun wat saam met sy familie op ‘n plot vasgekeer is, hy het ‘n diep sny opgedoen en ons moet ‘n klem in die kaak inspuiting saamneem, hy gaan dalk ook steke nodig hê. Ander passasiers is Tannie Meisie Graham en Oom Stoffel Erasmus, hulle het die vorige dag deurgekom met die helikopter om hulle pensioen te trek. Oom Stoffel vertel dat hy met ‘n boot by sy huis gaan haal is, vandaar is hy met ‘n viertrek voertuig tot by Connie Gouws se plek waar die helikopter reeds gewag het.
Die rivier wat gewoonlik enkeldiep op sy plaas loop, stroom reeds 5m diep daardeur, vertel hy terwyl die helikopter gelaai word. Hy vertel dat die fonteine in die berge soos riviere oor paaie stroom. Hy vertel hoe die gemeenskap van Baviaanshoek, of die De Hoek gemeenskap soos hulle bekendstaan, laer getrek het teen die water. “Daar is mense wat van plot na plot gaan om te kyk of almal reg is. Ek moet vir Connie en Jenny Gouws baie dankie sê vir al hul reëlings om te verseker dat ons nie vergete is nie.”
Tannie Meisie stem saam. Hoewel sy gladnie geslaap het gisteraand met die wete dat sy teruggaan na die plot toe nie, weet sy dat die mense daar wonderlik na mekaar en ook na hulle omsien. “’n Mens weet eintlik nie hoe om dankie te sê nie. Die eienaar van die helikopter het onbaatsugtig groot onkostes aangegaan om ons te help, hoe sê ‘n mens dankie?”
Met almal se veiligheidsgordels vas is ons gou in die lug en die prentjie wat hom voor ons afspeel lyk amper onwerklik. Die rivier het uit sy nate gebars en stroom oor paaie. Die Witkoppen pad na Baviaans-hoek is nie meer sigbaar onder die massas water nie. Op plekke sien ‘n mens diep gate waar die pad deur water wat van die berge af kom weggespoel is. Ek besef meteens dat die De Hoek gemeenskap nog ‘n hele paar dae gestrand gaan wees.
Binne minute land ons op Connie en Jenny Gouws se grond. Die viertrek voertuig staan gereed om die passasiers te vervoer. Oom Stoffel maak hom gereed om per boot weer terug te gaan plaas toe. Tannie Meisie waai dankbaar toe ons weer opstyg.
Ons sien huise op eilande, en paaie wat verspoel is. Oor Molalatau Lodge sien ons reddingsbootjies wat inwoners na droë land neem. Later sou ons hoor dat Murray & Robberts noodspanne 75 mense daar ontruim het. Hulle het ook gesorg dat 200 warm etes elke dag aan gestrandes beskikbaar gestel word.
Ons vlieg oor die Markenpad brug (by die veilingskrale), die massas water wat teen hom opstoot laat die brug maar klein en effe lyk. Toe ons land, bel ek vir Charmain. Sy is besig om verblyf te reël vir almal wat van die Beska omgewing ontruim is. Die Mogolklub het die sportsaal beskikbaar gestel, vertel sy.
Intussen verneem ons dat die reën nog tot Sondag toe gaan aanhou, hoe lyk ons dorpie dan, wonder ons?  Al wat ons weet is wat ons vandag gesien het - mense wat alles in die stryd werp om ander, selfs vreemdelinge te help. Dit laat ons dink aan Tannie Meisie se woorde terwyl ons gevlieg het.
“Dit is waarvoor die Here ons hier op aarde geplaas het, om mekaar te help waar ons kan.”

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube