-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Servaas is iemand so tussen-in. Hy kan sonder ’n paar gemaklikhede leef, maar dit gaan maar tande kners om sonder sy “duiwelskassie” te kamp. Hy kan nie leef sonder sy Sewende Laan en sport nie.
Dis dié wat hy besluit het hy kry vir hom so klein TV-skottel vir die uitkamp. Hy koop spesiaal ’n kamera-driepoot wat toe ’n skottel-driepoot word en ’n week voor hy weer gaan kamp, besluit hy die oggend hy moet darem die spulletjie toets sodat hy nie by die kampplek soos die stompste potlood in die pakkie lyk nie.
“Kyk.” vertel Servaas my die storie, “kom dit by tegniese goed het ek tien duime en elkeen vat sy eie koers.”
“Ek het my klein TV’tjie opgestel, die drie drade, rooi, wit en geel in die TV’tjie gedruk, die ander punte van die drade in die dekodeerder, die ellelange skotteldraad in die dekodeerder en die ander punt in die skottel. Toe’s ek reg vir TV kyk.”
Ek kyk fronsend na hom: “Moenie vir my sê jy het sommer so met die eerste slag die sein gekry nie. Dis beginner’s luck.”
Servaas vryf deur sy hare en ek weet hy wil nou verder vertel, maar homself nie in ’n swak lig stel nie.
“Die sein het later gekom,” sê hy
kortaf. “Hoeveel later?”
“Man, net later. Luister eers verder. Jy kry so klein oorpluisie by en die instruksies sê daar is so ’n eentonige geskree en as die toonhoogte daarvan verhoog, kry jy sein. Laat ek jou vertel, ek dink net ’n ou met een dowe oor en anderkant ook niks, sal daai verhoging kan hoor. Vir my bly alles dieselfde. Ek sien toe ek gaan nie regkom nie en sit af winkel toe waar ek die ding gekoop het. Daar vat die slim mannetjie agter die toonbank my buitekant toe, draai die skottel so effens, druk die pluisie in my oor en sê: ‘Luister net goed en oom moet my sê as die toonhoogte hoër word.’"
“Ek hoor toe wragtig die verskil. Ek maak my goeters bymekaar en laat waai huis toe. Daar gekom, sit ek die skottel presies soos die mannetjie gesê het en luister. Nie ’n dooie se verskil nie. Dis net een lang gekerm op dieselfde toonhoogte.
“Ek sê jou, ek spook met daai pluisie tot omtrent skemer. Toe gooi en tou op en sê vir my aller-enigste ek gaan die hele lot aan die pandjieswinkel verkoop.
“Met dié hou Herman voor my huis stil. Hy kyk net die klomp drade en my deurmekaar hare so een keer en sê: “Lyk my jy is nou so befoeterd selfs die duiwel hol weg. Gee laat ek sien.
“Hy stap nader, vat die TV se remote en druk ’n knoppie daarop. Die menu verskyn en hy kry so snaakse trek om sy mond. Hy druk die ‘AV’ knoppie en ek wou nog vra wat hy doen, toe begin daai TV’tjie scan dat dit bars.
“Toe, daar is jou sein”, sê Herman. ”Hou die ding op AV.” Ek moet sukkel om my lag te hou: “Jy spook die ganse Saterdag en al die tyd is die TV op die verkeerde instelling. Het jy dit nie gecheck nie?
Servaas kyk net so skuins na my: “Daaroor praat ons mos nie.”
0 Comments