<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Herstelwerk begin aan die Witkoppad

 
Vermy vir eers die Witkoppad.
News : 20 Mar 2014 268 Viewed By Valerie Cilliers 0

Nadat omtrent 200 inwoners van die Baviaanshoek-omgewing vir meer as twee weke lank in hulle huise vasgekeer was weens vloede, het die water uiteindelik hierdie week begin sak. Teen Woensdag was daar nog net 15 families vasgekeer.
Hoewel nog reën Maandagaand geval het, kon inwoners met viertrek voertuie Dinsdagoggend begin om families met skoolgaande kinders en werknemers wat by die werk moes uitkom te ontruim. Woonstelle in die dorp is deur Murray & Robberts aan die families beskikbaar gestel. Charmain Robbertse, wat as deel van die Cupcakes ('n groep vroue van Lephalale wat liefdadigheidswerk doen) die ontruiming gekoördineer het, vertel dat sommige van die inwoners deur die rivier moes swem. “Een van die inwoners wat ontruim is, is ‘n vrou wat 20 weke swanger is, sy het vertel hoe sy deur die rivier gestap het met gewapende mans aan beide kante om hulle van krokodille te beskerm.  Hulle moes ook met vierwielfietse geneem word tot waar ‘n viertrek voertuig hulle tot in die dorp kon neem.”
Nog iemand wat baie betrokke was by die koördinering en verspreiding van voorrade is Jenny Gouws van Baviaanshoek. Sy vertel dat die modder dit hierdie week baie moeilik gemaak het om by almal uit te kom.  “Ons kan maar sê ons het hierdie week met fase twee begin. Dit is nie meer die water nie, maar eerder die modder wat ons nou wil kniehalter, maar ons bly positief en ons praat mekaar moed in,” het sy Dinsdag per satellietfoon aan Noordelike Nuus gesê.
Sy vertel dat Leon Fourie – die plaaslike besigheidsman, wat daagliks voorrade met sy helikopter na hulle toe gevlieg het, Saterdag begin het met herstelwerk aan die Witkoppad. “Alhoewel ons nou kan deurry is daar nog mense wat vasgekeer is. Plek plek kan ons net met vierwiel-motorfietse ry. Daar waar ons glad nie kan ry nie stap ons om kos en voorraad aan almal uit te deel.”
Voorsitter van die De Hoek gemeenskap, Connie Gouws, het ook die week ‘n beroep gedoen op inwoners om nie onnodig die Witkoppad te gebruik nie. Baie mense het die naweek probeer deurry om net weer vas te sit. Dit rig baie skade aan, ons vra mense om geduldig te wees totdat die pad herstel is.
Die De Hoek gemeenskap bedank graag elkeen wat 'n bydrae gemaak het die afgelope twee weke om te verseker dat hulle kos, water en voorrade het. Daar was verskeie inwoners wat met bote rivier langs gery het om voorrade te vervoer. Verskeie mense was ook betrokke by die insameling van kos en voorraad vir die doel. Dankie aan elke besigheid en onderneming wat skenkings gemaak het. Noordelike Nuus kliënte wat bygedra het was Choppies, OK, One Stop, Drimac, Fruit and Veg City, Doringhoek ontwikkeling, Oasis, Drs Emslie, Carbo Slaghuis, Speedy, LA Sport, Talisman, Lephalale Toerisme, Sasko, Lephalale Gas en Plastic Box. Dankie ook aan almal wat tans besig is om die pad te herstel.

 

 

 
 

Connie Gouws.
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube