-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Hoewel die vloed byna ‘n maand na die afsnydatum vir indiening van die omgewingsimpakstudie kom, is daar nog tyd vir monitering en verdere studies danksy ‘n hersieningsproses wat deur die Nyl Aksiegroep afgedwing is.
Die Nyl Aksiegroep wat bestaan uit inwoners van Mokopane, Mookgophong en Modimolle asook grondeienaars en ander belangegroepe, het aangedring op ‘n hersiening van die impakstudie verslag deur akademiese eweknieë van die Universiteit van die Vrystaat.
Daar is onlangs ‘n vergadering tussen E-Science en die Universiteit se Instituut vir Grondwaterstudies gehou waar van die punte wat die Instituut se Prof. Gerrit van Tonder en Dr. Danie Vermeulen bekommer het aangespreek is.
Fischer sê die twee grootste kwessies wat na hierdie vergadering aangespreek moet word is die risiko dat die beplande noordelike put in die rivier kan uitlek.
Die Instituut se kenners meen ook dat die plan om die oopgroef van die grondwater onder die Nyl vloedvlakte te isoleer deur bryvulling (grouting), nie voldoende beskerming waarborg nie.
“Ons moet dus nog werk gaan doen om hierdie kwelvrae aan te spreek,” het Fischer gesê. Intussen sê hy die water in die Nyl het hom en sy span byna onkant gevang. “Die water het baie vinnig en baie hoog opgekom.”
Maar hy sê al die nodige moniterings-toerusting en apparate is in plek en daar kan nou bepaal word tot watter mate die grond en die oppervlakwater van mekaar geskei is.
‘n Groot deel van E-Science se grondwaterstudie verslag rus op die teorie dat die oppervlakwater van die Nyl niks te make het met die grondwater nie en dat hierdie twee waterliggame van mekaar geskei is deur ‘n ondeurdringbare kleilaag.
Fischer is vol vertroue dat die water wat tans oor die vloedvlakte vloei, hierdie punt sal staaf. “As ‘n mens so lank soos ek hierdie rivier bestudeer besef jy dat die kleilaag die Nyl is en die Nyl is die kleilaag,” het hy Dinsdag gesê.
Maar lede van die Nyl Aksiegroep en boere in die omgewing meen Fischer en sy span weet nog nie genoeg van die Nyl nie. Hulle is ook bekommerd dat wat Fischer as ‘n vloed beskou eintlik nog maar net ‘n ligte afvloei is en nie voldoende gaan wees om te bepaal wat die werklike impak van ‘n vloed gaan wees nie.
“Die omgewingsimpakstudie verslag is op baie persepsies en wanopvattings geskoei. Ons kan maar net hoop dat daar genoeg water in die vloedvlakte is om die rivier se verhouding met die grondwater te laat deurskemer,” het die Nyl Aksiegroep se regsverteenwoordiger, Emile Honiball Woensdag opgemerk.
“Die rivierbed is baie droog en die water is nog besig om oral in te loop. Dit is jammer dat hy so laat in die jaar eers afkom, want ons kanse op reën om die rivier behoorlik in vloed te kry is skraal so na aan die einde van die reënseisoen,” het Honiball gesê. Hy meen die rivier het nou maar net begin vloei en is nie in vloed nie.
CP van der Walt wat op die Springbokvlakte langs die Nyl boer stem saam. “Hierdie is beslis nie ‘n vloed nie, die Nyl vloei wel, maar baie rustig en is na ‘n week reeds besig om af te neem.”
In hierdie stadium hoop die gemeenskap van Mokopane en omliggende gebiede dat daar nog water van Modimolle se kant af op pad is, nie net vir die doel van die myn se impakstudie nie, maar omdat die rivier so onlosmaaklike deel van die omgewing se karakter is.
0 Comments