-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Toyota se gewilde Corolla het wêreldwye verkope van 40-miljoen eenhede oorskry sedert sy bekendstelling meer as 40 jaar gelede en geniet ook ‘n ongekende lojali-teit onder kopers. Dit is nie maklik om ‘n wenresep te verbeter nie, so dit was ‘n uitdaging om die model te verbeter sonder om te veel aan die wenresep te torring.
Toyota het in Februarie vanjaar sy elfde geslag Corolla plaaslik bekendgestel. Ons het so pas ‘n week deurgebring met die nuwe 1.4 diesel model wat die ou 2.0 liter diesel vervang en moet Toyota se witjasse ‘n pluimpie gee – die klein diesel was inderdaad ‘n aangename verrassing.
Die nuwe model is geensins radikaal in ontwerp nie, tog het die stilering buite ‘n varsheid aan die voorkoms gebring wat die oog vang. Baklyne is nou skerper en die daklyn profiel meer gerond. Die neus buig laer grond toe in ‘n wigvorm met die sierrooster en nuutontwerpte lighulse wat in ‘n “glimlag” na bo opkrul. Met die voorste buffer wat breed en laag na onder neig het die nuwe Corolla nogal trekke na die Honda Civic en lyk heel modern en hups.
Die agterkant se hoekerige rondings en breë plat lighulse pas uitstekend by die nuwe moderne voorkoms.
Die nuwe model is nou groter in afme-tings en hurk ook effe laer op die grond. Die resultaat is ‘n motor wat platter en slanker lyk. Met ‘n 10cm langer as-afstand kry die insittendes binne meer beenruimte en die bagasiebak meer pakplek. Die kajuit binne het ook heelwat aandag gekry. Die sitplekke is verbeter vir groter rygerief en gemak. Die stuur kantel laer en die bestuurder stoel kan nou verder vorentoe en agtertoe skuif. Die resultaat is ‘n gemakliker rit. Die regop voorpaneel herinner aan modelle van heelwat jare gelede, maar die skoner, eenvoudiger uitleg, groot skakelaars en raakskerm met tru-kamera beeld verbeter die ergonomie. Ons toetsmotor se swart leerbekleedsel het heel deftig gevoel en die her-ontwerpte binneruim as ‘n geheel was heel aangenaam op die oog met uitstekende bougehalte en goeie materiale.
Dit is egter op die pad waar die nuwe Corolla ‘n veel beter indruk maak as sy voorganger. Die langer as-afstand sorg vir ‘n sagter rit. Met verbeterde klankdem-ping en ‘n laer sleursyfer (0,27Cd) is die Corolla ook nou veel stiller op die pad met merkbaar minder windgeraas. Verder is die ritgehalte aangenaam met goeie padgreep en stabiliteit, selfs wanneer ek kole gegooi het deur die draaie.
Ons toets model se 1,4 turbodiesel viersilinder het beïndruk met uitsteken-de brandstofekonomie (ons syfer was ten spyte van my swaar voet ‘n skaflike 6,2l/100km, terwyl Toyota amptelik ‘n syfer van 4,5l/100km aangee). Tog voel ek die dieseltjie kort dalk effe meer woema. Die 0-100kpu lopie neem 12,5 sekondes. Die enjintjie lewer 66kW se piekkrag, maar ‘n heel skaflike 205Nm wringkrag wat verbysteek redelik maklik en ooppad bestuur ‘n genotvolle ervaring gemaak het. Aandrywing geskied via ‘n verbeterde ses-gang ratkas deur die voorwiele. Oorgooie was glad wat moeitelose stadsbestuur verseker het.
Ons het ons tyd met die nuwe Corolla bo verwagting geniet. Corolla aanhangers kan gerus slaap, die nuwe model is ‘n groot verbetering op die oue en tref boonop ook met ‘n moderne voorkoms. Definitief die beste Corolla ooit!
Die Toyota Corolla 1.4 Diesel verkoop teen R237 900 wat baie goeie waarde bied.
0 Comments