-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
DA raadslid en wyksraadslid vir Onverwacht, Stef Snyders, is verlede Donderdagoggend in sy huis in Lephalale dood aange-tref. Hy is vermoedelik in sy slaap aan ‘n hartaanval dood.
Sy kollega, Stephen Manamela, vertel dat die DA Lephalale span die vorige aand by Stef se huis vergader het en dat Stef in ‘n ligte luim was.
DA raadslid, Astrid Bason vertel dat daar geen teken was dat Stef sleg gevoel het of siek was nie. “Dit is in hierdie stadium nog onmoontlik om te glo dat die lewenslustige, passievolle Stef nie meer met ons is nie. Mens verwag enige oomblik ‘n SMS of oproep van hom om gou te gesels oor die nuutste verwikkelinge rondom water of elektrisiteit wat hy pas ontdek het. Stef was altyd aan die gang en daar was gereeld 'n nuwe plan aan die uitbroei in sy slim, nuuskierige brein,” het sy hierdie week aan Noordelike Nuus gesê.
“Min mense besef hoe Stef vir die mense in sy wyk baklei het, hoeveel aande hy laataand nog iemand probeer help het met 'n krag of waterprobleem. Sy heengaan laat 'n groot leemte vir Onverwacht wat moeilik gevul sal word.”
“Ons onthou Stef ook vir sy liefde vir sy oorlede vrou, sy kinders en kleinkinders. Hy het gereeld met hulle gespog en kon talle staaltjies oor hulle deel. Hy het altyd tyd gehad om na ons probleme te
luister en sy raad was op die man af en reguit.
“Stef, ons sal jou mis as kollega en vriend. Ons gun jou die rus, maar mis jou oneindig baie. Die DA Lephalale sal nie weer dieselfde wees sonder jou nie.”
Die munisipaliteit het Donderdag ‘n gedenkdiens vir Stef by die Mogol klub gehou en hom geloof vir sy jarelange diens aan die gemeenskap.
0 Comments