-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die DA se skaduminister van Landbou, Anette Steyn, die party se provinsiale leier, Jacques Smalle en die koukusleier in die provinsiale wetgewer, Desiree van der Walt het verlede Donderdagaand by Hoeka Toeka in Mokopane kom walgooi teen kieser ontevredenheid oor die party se aanvanklike steun vir die regering se plan om grondeise weer oop te stel.
Steyn het sterk te velde getrek teen die party se vorige landbouman, Lourie Bosman, wat die party se restitusie beleid glo aan die media gelek het voordat dit gereed was. In hierdie omstrede dokument het die DA sy steun toegesê aan die ANC se plan om die grondeise proses weer oop te stel vir die indiening van grondeise - ‘n proses wat in terme van die bestaande Restitusie wet in Desember 1998 afgesluit is.
Landbouleiers het dadelik heftig gereageer op berigte oor die DA se Restitusie beleid, maar sê Steyn, daar was voorwaardes aan verbonde. En hoewel sy te kenne gee dat die DA aanvanklik gekies het om stil te bly “ter wille van politieke spelreëls,” meen sy die volle prentjie is nie deur die media geskets nie.
Steyn het Donderdagaand die voorwaardes waarop die party die heroopstelling van eise sou steun aan ‘n groepie belangstellendes bekend gemaak.
“Ons sou die heroopstelling slegs steun mits die bestaande 7 000 eise wat nog hangende is eers afgehandel word en die staat geld begroot vir die verwagte nuwe eise wat tussen R145 en R179 miljard sal kos om af te handel. Sonder daardie geld kan die proses nie weer oopgemaak word nie, het sy gesê.
Die DA het glo ook aangedring daarop dat alternatiewe grond vir eisers gesoek word indien grondeienaars nie bereid is om hul grond vir restitusie te verkoop nie en dat die staat beide die eisers en die grond-eienaars se regskoste deel, sou daar ‘n dispuut oor die geldigheid van ‘n eis wees.
Omdat die ANC nie hierdie voorwaardes van die DA wou aanvaar en in die wetsontwerp inskryf nie, het die DA op die einde teen die heroopstelling van grondeise gestem in die parlement.
Maar Steyn sê die party het geen ander keuse gehad as om die proses aanvanklik te steun nie.
"Ons as party steun die Konstitusie wat sê mense wat as gevolg van apartheidswetgewing van hul eiendom ontneem is, is geregtig op restitusie. Sy het egter nie verduidelik waarom die party voel die bestaande restitusie proses wat tot en met 31 Des 1998 oop was vir grondeise nie voldoende geleentheid bied vir die aanspreek van regte skendings nie."
0 Comments