<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

MG maak geskiedenis in Mokopane

 
News : 04 Apr 2014 265 Viewed By Jasper Raats 0

Die MG handelsmerk is waarskynlik so eie aan sportmotors as wat die Moorddrift monument aan Mokopane is, en nou is hierdie legendariese motors met hul jare lange sport bloedlyne in Mokopane beskikbaar.
BKG Motors is die nuwe agentskap vir MG in Limpopo en het verlede week die eerste MG3 in die provinsie verkoop en afgelewer aan ‘n kliënt in Polokwane. BKG staan nou onder die nuwe bestuur van Dougie Rule, ‘n man met 30 jaar ondervinding en ‘n passie vir die motorbedryf.
Terwyl Dougie na die hele BKG groep se belange gaan omsien, is Lucia Loubser verantwoordelik vir die MG handelsmerk se bemarking en verkope. Sy self kan nie wag om haar hande op haar eie MG3 te kry nie.
Hoewel die MG3 supermini reeds in Oktober verlede jaar by die Johannesburgse Internasionale Motorskou bekendgestel is, is dit nou eers in Suid-Afrika beskikbaar. In die Verenigde Koninkryk is dit reeds die top verkoper by MG handelaars.
Hoewel hierdie legendariese Britse motors steeds in Europa vervaardig word, behoort die MG handelsmerk deesdae aan ‘n Sjinese maatskappy. Dit val so reg in BKG motors se kraal.
Dougie is goed vertroud met van die Sjinese handelsmerke wat onder die BKG vaandel bemark word en kan nie uitgepraat raak oor die kwaliteit van hierdie produkte nie. Hy het hom duidelik ingestudeer op die gebied en kan die koring van die kaf skei.
Hy verduidelik byvoorbeeld hoe die nuwe reeks bussies wat nou ook deur BKG bemark word in Sjina vervaardig word, maar onder lisensie van die Maxus handelsmerk wat vroeërjare as Leyland bekendgestaan het. Beide MG en Leyland is gebore uit die Morris motormaatskappy.
“Die MG is nog pure sportskar,” gesels Dougie, “maar deesdae is die fokus op familie sportmotors met vier sitplekke en al die rygerief van sy kompetisie. Maar onder die enjinkap brul ‘n hele trop turboaangejaagde resiesperde.”
Dougie sê soos die MG reeks is hy ook nou gereed om rustiger te raak.
“Ek het vir 30 jaar die gewoel en gejaag van Gauteng geniet. Nou wil ek op ‘n meer persoonlike vlak besigheid doen en as-te-ware tyd hê om stil te staan by my kliënte. Ek glo Potties is net die plek daarvoor.”

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube