<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Besigheidskamer se nuwe stuurman

 
Piet de Bruyn van B & D Ouditeure is onlangs gekies is as die nuwe president van die Mokopane Besigheidskamer.
News : 10 Apr 2014 77 Viewed 0

Die oprigting en instandhouding van voldoende infrastruktuur - dit is waarop Piet de Bruyn van B & D Ouditeure sê hy  gaan fokus nadat hy onlangs gekies is as die nuwe president van die Mokopane
Besigheidskamer.
“Ons dorp beweeg in ‘n groeifase in en dit is belangrik dat daar kapasiteit geskep word vir die nuwe besighede en inwoners wat hulle in Mokopane gaan kom vestig,” sê hy.
De Bruyn sê die besigheidskamer is dikwels die enigste party wat namens die publiek instette lewer wanneer daar gepraat word oor kwessies soos munisipale tariewe, watervoorsiening en infrastruktuur.
Hy is veral bekommerd dat daar reeds te veel vragmotorverkeer deur die dorp vloei en voorsien erge probleme as daar nie ‘n ringpad om die dorp gebou word voordat die nuwe Platreef myn en Anglo Platinum uitbreidings in volle swang is nie.
“Ons gaan sien dat die vragverkeer op ons paaie vir die volgende klompie jare elke jaar gaan verdubbel. As daar nie ‘n verbypad is vir vragmotors nie, gaan dit ons dorp se paaie vernietig,” waarsku hy.
De Bruyn wys daarop dat daar reeds te min beheer oor die vragmotors uitgeoefen word. “Hulle ry ons sypaadjies en stormwater pype stukkend omdat hulle net waar hul wil van die pad aftrek.” Hy voeg by dat die kruising by Geyser en Thabo Mbeki ‘n “tydbom” is.
“Ons is tans besig om met die munisipaliteit te praat oor die moontlikheid van ‘n verbypad vanaf die N11 wat dan net voor die tolhek by die R101 (die ou Pietersburgpad) sal aansluit, maar dit is iets waarvoor daar begroot sal moet word.”
Behalwe vir die dringende behoefte aan ‘n pad om die dorp, sê De Bruyn die munisipaliteit sal ook aandag aan die dorp se rioolaanleg moet gee. “Daar het oor die jare baie verdigting in die ou dorp plaasgevind waar ou burgererwe onderverdeel is en meenthuise opgerig is. Dit saam met nuwe uitbreidings plaas die bestaande stelsel reeds onder druk. ‘n Groter rioolaanleg sal gebou moet word om die verwagte influx van mense te kan hanteer,” verduidelik hy.
Maar hy voel daar is darem ook ligpunte wat gennoem moet word wanneer ‘n mens oor die munisipaliteit praat. Hy wys daarop dat die munisipaliteit se finansiële bestuur op ‘n redelik-goeie standaard is - dalk die beste in die provinsie en hoewel hy meen die munisipale instandhouding is nie altyd op standaard nie, vind daar wel onderhoud plaas.
De Bruyn meen die besigheidskamer se uitdaging is om deur samewerking en gesprekvoering druk uit te oefen om tekortkominge by die munisipaliteit aan te spreek.
Hy verduidelik dat dit een van die hoofredes is waarom besighede in die dorp aan die besigheidskamer moet behoort. “Hoe meer lede ons het, hoe meer bedingingsmag het ons wanneer ons met die owerhede praat oor kwessies wat op die besigheidsomgewing impakteer.”
As president, sê de Bruyn, gaan hy hom beywer vir meer netwerkgeleenthede tussen sakepersone op die dorp en ook met beleggers van buite die dorp.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube