-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Ek en Boeta loop op die werf en kurkproppe en sinkers soek toe Oom Willy se ou bakkie onder die kremetartboom stilhou. Ek wil hom nog vertel Daantjie het gebel om te sê die visse byt mooi by die Glen Alphine maar hy loer so in die sak vol visgoeters en skud sy kop.
“Nee kyk, as ek 'n kurkprop sien, dan sien ek 'n poacher en nie 'n visvangery nie.” sê Oom Willy terwyl hy sy voete skoonvee aan die goiingsak by die kombuisdeur. Ek en Boeta loop agter hom die kombuis in want wat 'n kurkprop en 'n poacher met mekaar te make het, dít moet ons weet.
“So kort voor die Groot Droogte gaan koop ek mos vir my tien mooi stoetverse en 'n bul daar anderkant die soutpanne. Oorle Hans het hulle nog vir my aangery. Maar toe kom die droogte en ek sien ek gaan sukkel om alles water te gee en ek besluit kom wat wil, ek verkoop van die ander beeste maar die stoettroppie moet bly want hulle is mos darem 'n belegging in die boerdery. Elke tweede of derde dag gaan pomp ek vir hulle water by die suiping langs die grootpad want daar is nog 'n bietjie mooi veld oor.
Op 'n dag kom ek agter die water hou nie. Ek pomp maar die dam sak al meer en ek begin weer die Lister van sy streke verdink maar die moutertjie loop mooi en as ek daar kom is sy tenkie leeg, so ek weet hy het gewerk. Om die krip sien ek dit is sopnat maar g’n pyp lek nie en daardie krip het ek met my eie hande gebou, hy is so dig soos kan kom.
So gaan dit vir 'n week of drie en ek raak skoon moedeloos want die boorgat begin wind spoeg maar ek kry nie meer die dam vol nie. Op 'n dag sê ek vir die vrou sy moet vir my 'n fles koffie en klompie toebroodjies inpak, ek gaan nou by daardie krip sit tot ek uitvind wat aan die gang is met die water wat so verdwyn. Ek het die heeloggend lekker by die kraal gesit en kyk hoe die wilde diere kom drink en eers toe die son begin water trek hoor ek die beeste is naby.
My hart het sommer van lekkerte geklop toe die troppie so uit die bosse nader gestap kom. Droogte of te not, die spulletjie was pure stoet! Ek sien die versies is amper almal dragtig en my boerdery gaan nou sommer begin mooi vorentoe gaan. Ek kon al in my gedagtes sien hoe die kallertjies saam met hul ma’s loop. Die beeste het dors nader gestap en toe begin water drink. Dit is toe wat ek mooitjies die skok van my lewe kry. Eers dag ek my oë bedrieg my want so 'n gesig het ek nog net op 'n pampoenland onder besproei
ïng gesien. Dis net water waar jy kyk! So vinnig as wat die beeste drink, so vinnig spuit die water met sulke boë uit hul pense. Eers toe die water so erg spuit onthou ek weer van die klomp wilddiewe wat so in die omgewing kwaaddoen. Seker gedink hulle kan sommer enige ding skiet.
Die beeste drink en drink en toe ek al re
ken die krip moet naby leeg wees lyk dit of almal darem genoeg ingekry het om die ergste dors te les. Ek het hulle net daar in die kraal toegemaak en huistoe gejaag. Die vrou het my gehelp ons visvangtassie uitpak en al wat leef en beef het op die werf gesoek en gegrou en tot daar genoeg kurkproppe was. Met die proppe, 'n knipmes en 'n spantou is ons terug kraal toe. Daar het ek een vir een die beeste deurgekyk en elke iedere gat toegemaak. Die proppe het mooi stewig gesit en die Lister het weer voorgebly met die pompery. Eers toe die verse ná die winter begin’t kalwe het, het daar hier en daar 'n prop uitgeskiet. Kompleet soos 'n sjampan-jeprop op 'n bruilof.
0 Comments