<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Gronddokument kan doodskoot vir Landbou wees

 
News : 10 Apr 2014 259 Viewed By Valerie Cilliers 0

Die dokument is by ‘n vorige werkswinkel in Augustus 2013 op die tafel geplaas maar is deur landbouorganisasies wat wit- en swart boere verteenwoordig verwerp.
“Ons het verneem dat minister [Gugile] Ntwinti by Afasa (African Farmers Association of South Africa) se 2013 kongres gemeld het dat hulle hul nie moet steur aan die dokument nie - “ek terg julle net bietjie,” het hy blykbaar aan lede gesê. Ons was dus verbaas toe die dokument weer Maandag bespreek word,” sê  TLU SA hoofbestuurder Bennie van Zyl.
“Ek het tydens Maandag se werksessie hieroor uitgevra en 'n afgevaardigde se antwoord was dat ons, ons kapitalistiese aanslag moet laat vaar omdat ons nou onder ‘n nuwe dispensasie is. Ek wou by hom weet of ons dan nou ‘n sosialistiese staat geword het, waarop hy my nie geantwoord het nie.”
Van Zyl meen dat die dokument groot gevaar inhou vir die vryemarkstelsel in die land. “Hoewel die dokument ‘n doodskoot vir landbou is, is daar veel meer in gedrang. Die geveg gaan nou oor die beskerming en bevordering van beleggings en bates. Dit wil voorkom of die Staat besig is om homself te posisioneer om dit te ontneem."
Volgens van Zyl maak die grondwet daarvoor voorsiening dat die Staat bates mag ontneem as dit in die belang van die land is. “Die grondwet gee wel in Art 25 (1) die reg om bates te ontneem en daar word niks genoem van vergoeding nie. In Art 25 ( 2) word van onteiening gepraat en is daar wel melding van vergoeding. Ons het reeds in die verlede voorbeelde hiervan gesien toe boere se water-en ook mineraal regte ontneem is. ‘n Konstitusionele hof het bevind dat die grondwet voorsiening maak dat boere nie hiervoor vergoed hoef te word nie. In die verlede was dit ‘n verhandelbare bate, tans is die Staat die bewaarder daarvan en is die voormalige eienaar nie vergoed nie. Dit is vir ons duidelik dat ‘n verskeidenheid beleidsdokumente , konsepwette en wette die lig sien wat die beginsel van privaat besitreg direk en indirek op n manier aantas.”
In ‘n verklaring wat hierdie week uitgereik is het Agri SA sy steun vir die ideaal van verblyf sekerheid en plaaswerker-bemagtiging herbevestig. Die organisasie het dit egter onomwonde gestel dat “die voorgestelde beleid fundamenteel gebrekkig is en realisties gesproke nie geïmplementeer kan word nie. Die ontneming van grond sonder vergoeding is onregverdigbaar en diskrimineer teen die landbousektor vis-a-vis ander sektore. Geen boer kan bekostig om die waarde en gebruik van 50% van sy/haar plaas te verloor nie. Dit is Agri SA se standpunt dat indien hierdie beleidsvoorstelle geïmplementeer word dit tot ernstige ontwrigting van voedsel- en veselproduksie sal lei. Die voorstelle is ook onduidelik of die grondverdeling verpligtend sal wees en of boere ‘n keuse in dié verband sal hê. Agri SA het dit duidelik gestel dat hy die verpligte toepassing van só ‘n beleid sal teenstaan, indien nodig tot in die konstitusionele hof.”
Volgens Agri SA het die minister by die vergadering gesê dat sy departement oor die volgende 12 maande voort sal gaan om met belangegroepe oor die beleid te beraadslaag. Hy het onder andere gesê dat dit nou ‘n klas-aangeleentheid eerder as ‘n rasse-aangeleentheid is aangesien wit en swart kommersiële boere hul besware teen die beleidsvoorstelle in sy huidige vorm aangedui het. Die departement onderneem om ‘n verslag oor die werkswinkel saam te stel en dit mettertyd onder belanghebbendes te sirkuleer.”
Intussen het AfriSake se uitvoerende hoof, Cornelius Jansen van Rensburg, Woensdag gesê dat boere is nie net grondeienaars nie, maar ook sakemanne. "Indien hierdie beleid aanvaar sou word, skep dit die regsraamwerk vir die Staat om die bates van enige sakeonderneming onder die werkers van daardie onderneming te verdeel, nie net plase nie. Indien dit moontlik sou word, is geen bate meer veilig nie."
AfriSake berig dat daar meer as 13 wette, wetsontwerpe en beleidsdokumente is wat eiendomsreg drasties inperk en wat SA duur te staan gaan kom.

 

Wat sê die dokument?
In die dokument word voorgestel dat eienaars 50% van hul grond kan behou terwyl arbeiders op die oorblywende 50% eienaarskap kan verkry. Grondverdeling word bereken in verhouding tot werkers se bydrae tot die ontwikkeling van die plaas, gebaseer op die aantal jare wat hulle op die plaas gewerk het. ‘n Belegging- en ontwikkelingsfonds (trust) sal geskep word wat verteenwoordigend van aandeelhouers in die grond moet wees. Die vergoeding wat die regering vir hierdie herverdelings reëling betaal, sal nie aan die huidige grondeienaars uitbetaal word nie maar in die trust betaal word vir die bemagtiging van plaaswerkers se deelname aan die boerdery. Die uitgangspunt hiervoor is dat grondeienaars reeds voldoende voordeel ontvang het vanweë sogenaamde “uitbuitende lone” en hulle eie bevoordeling in die verlede.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube