<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Krokodille is nou oral

 
News : 10 Apr 2014 665 Viewed By Jasper Raats 0

“Ek het so twee weke gelede die eerste krokodil gesien en toe sê my werkers vir my hulle het vroeër twee gesien,” so vertel CP van der Walt wat op die Springbokvlakte langs die Nyl boer.
Ander boere wat stroomop langs die Nyl woon het ook glo krokodille gesien in hierdie rivier waar hulle nog nooit voorgekom het nie.
Dit lyk egter of die krokodille nog nie hul weg verder stroomaf gevind het nie. Ken Smit van die plaas Moorddrift buite Mokopane het tot op hede nog geen krokodille of krokodil aktiwiteite in sy dam gewaar nie.
Maar ander damme in die omgewing is ook nou al deur dié groot reptiele geïnfiltreer. Nico Kruger van PropRite Eiendomme in Mookgophong sê die Frikkie Geyserdam naby die mineraalbaddens het ook nou ‘n hele spul krokodille in - almal van so ongeveer 2m en kleiner. Vroeër het die Beat-koerant ook gewaarsku dat daar krokodille in die Donkerpoort Dam naby Modimolle opgemerk is.
Lesers het ook aan Noordelike Nuus vertel dat hulle al meer as een keer krokodille by die inloop van Doorndraai Dam opgemerk het.
Die krokodil wat CP in die Nyl gesien het was ook sowat 2m lank. Volgens Tiaan Rabie van Bouncy Croc krokodilplaas naby Mookgophong is krokodille van hierdie grootte nogal parmantig.
“Op 2m raak krokodille soos tieners, hulle is geslagsryp en gefrustreerd omdat hulle nog opsy moet staan vir die groot krokodille. Hulle toets hulle vermoëns en hulle krag teen alles en almal,” sê hy.
Rabie se observasie strook met die string krokodil aanvalle waarop Noordelike Nuus sedert die begin van die jaar verslag gelewer het. Die aanval op ‘n jong dame in Hoedspruit, die pa en seun wat op ‘n plaasdam ook naby Hoedspruit aangeval is en die hengelaar wat by Rust te Winter in sy tent aangeval is was almal slagoffers van krokodille van ongeveer 2m.
Die Potgietersrus Distrik Landbou-unie het verlede week ‘n waarskuwing gerig aan boere langs die Nyl. “Wees asseblief ekstra versigtig en laat weet as julle dalk krokodille opmerk,” het die organisasie in ‘n e-pos gesê.
Die DLU vermoed die skielike versprei-ding van krokodille na waters waar hulle nog nooit voorgekom het nie kan te make hê met die onlangse vloede. Die moontlikheid bestaan dat krokodille tydens die vloede uit teeldamme ontsnap het.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube