<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Die manne wat alles weet

 
News : 16 Apr 2014 90 Viewed By Melt van der Spuy 0

“Het julle al gesien hoe loop hierdie Slimjanne in die kamp rond en soek na ’n plek waar hulle sulle ‘talente’ kan tentoonstel?” vra Servaas nou die ander oggend. “Hulle is mos die manne wat alles altyd beter as jy het en wat ook altyd beter weet as jy. Die kampe is redelik vol van dié knape.”
Herman sit langs my en hy loer so effens na my toe: “Miskien moet jy maar die kasteeltjie aangee. Lyk my Servaas het ’n groot storie.”
Ek probeer keer: “Nie dalk nog bietjie vroeg daarvoor nie. Die Boeing kom nog.”
Herman trek sy mond op ’n plooi: “Kan wees dat die Boeing nog aant’kom is, maar Kleinpiet is netnou al met sy micro light hieroor. So, gee maar aan.” Ek sien ek gaan nie wegkom nie en haal ’n koue uit die yskas. Herman vat dit en die blikkie se oor breek.
“As julle twee nou klaar oor die drinkdingetjie geredeneer het, kan julle seker my vraag antwoord.” Ons stem al twee dadelik met hom saam en hy gaan onverstoord voort: “Nou die ander dag kamp ek daar by die oord anderkant Tzaneen en ek het net my DSTV klaar ingestel en staan my nog en verwonder dat ek dit reggekry het, toe een van daai Slimjanne daar uitslaan.”
“Môre-môre,” kom sy welluidende stem. “Lyk my jy sukkel so bietjie met die skotteltjie.”
“Ek weet nie wat hom dit laat dink het nie, want vroulief kyk ewe lekker na een of ander kookprogram. Slimjan laat hom egter nie van stryk bring nie en sê, “gelukkig het ek my masjientjie so per ongeluk by my. Ek kan gou die dingetjie vir jou instel”.
“Ek wou nog vir die mannetjie sê dis nie nodig nie, toe is hy by my verby en voor ek kan keer, het hy die kabel by die skottel los, ma verloor haar beeld en Slimjan staan met ’n wye glimlag om die mond die kabel aan sy masjientjie en koppel. Hy roep my nader om te kom kyk hoe slim ding is sy masjientjie.”
“Sien jy daai geel streep,” sê Slimjan, “Watch hom. As ek die skottel net so effens roer, gly daai streep langer of korter. Kyk.”
Servaas strek sy lang bene voor hom uit. “Ek sê vir julle twee, Slimjan draai die skottel die kant toe en weer anderkant toe, maar die geel streep staan botstil. Slimjan glimlag sy beste Colgate-glimlag en verseker my die skottel is nou op sy beste. Hy druk selfs die ‘menu’ om die seinsterkte te toets en hy kry ’n sterkte van 74%. Baie tevrede ontkoppel hy sy goed en voor hy ewe pronkerig wegstap, vertel hy my hy het die slim masjientjie op een van sy oorsese reise in Japan gekoop. Kos glo ’n paar duisend rand ook.”
Servaas kry daai vonkel in die oog: “Maar wat Slimjan nie weet nie, is dat toe ek my seinsterkte getoets het nadat ek dit op my manier ingestel het, het en 81% gekry.”
Herman is skoon ontstoke: “En jy roep hom nie terug en vertel hom dit nie?”
Servaas knipoog: “Nee, daaroor praat ons mos nie.”

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube