-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Na 28 jaar as onderwyseres by Laerskool Krugerpark tree Retha Ehlers aan die einde van hierdie maand af.
Sy het haar onderwys loopbaan in 1976 by Laerskool Edleen in Kempton Park begin. Daarna is sy na Merensky Hoërskool waar sy haar man, Gerrie, ontmoet het. Hulle is in Januarie 1977 getroud waarna hulle na Lephalale verhuis het. Gerrie het by Ellisras Hoërskool skool gehou en Retha by Laerskool Ellisras.
Vandaar is hulle na Potchefstroom en toe na Barberton waar die Elherse weer by die hoër en laerskole skoolgehou het.
In 1985 verhuis hulle na Mokopane waar Gerrie by Hoërskool Piet Potgieter aansluit en Retha op 1 Januarie 1986 by Laerskool Krugerpark se personeelkorps inval. Vir generasies se leerders was sy die kunsjuffrou.
Maar oor die jare het sy aangehou studeer en eers haar BA in kunsgeskiedenis en later haar B-Ed in opvoedkunde voltooi. Hierdie kwalifikasies het haar die ideale persoon gemaak vir die skool se departementshoof van opvoedkunde.
En nou? “Nou gaan ons rus,” sê Retha. “Ons het vir ons ‘n karavaan gekoop. Ons gaan kamp en kuier en ontspan soveel as wat ons kan.”
Noordelike Nuus wens haar alles wat mooi is toe in haar aftree jare.
0 Comments