<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

‘n Helpende Hand vir hulle in nood

 
Henriëtte Williams van Helpende Hand Mokopane, Marianthie van der Walt van Helpende Hand Limpopo en Eulogia de Wet van die Mokopane Noodforum.
News : 16 Apr 2014 212 Viewed By Jasper Raats 0

Inwoners van Mokopane het Vrydagaand die geleentheid gehad om meer leer oor die werk van Helpende Hand en die Mokopane Noodforum se nuwe werkskeppingsprojek.
Marianthi van der Walt, voorsitter van Helpende Hand Limpopo, het aan gaste wat die funksie in Hoërskool Piet Potgieter se skoolsaal bygewoon het, vertel hoe die orga-nisasie takke soos die een in Mokopane kan befonds wanneer ledegetalle groei.
“Vir elke 15 nuwe lede wat ‘n tak werf, skenk Helpende Hand se hoofkantoor R10 000 aan daardie tak,” het sy gesê en bygevoeg dat lidmaatskap R50 per persoon per maand beloop.
Die organisasie het reeds 120 takke landwyd waarvan 12 in Limpopo is. “Hoewel ons onsself as welsynsorganisasie sien, wil ons nie ‘n bakhandkultuur onder ons mense skep nie. Daarom vat ons hande met organisasies soos die Noodforum wat reeds jare se kennis opgebou het as dit kom by mense help om hulself te help,” het Van der Walt gesê.
Sy het verduidelik dat Helpende Hand hom veral op die opheffing van kinders wil toelê. “Flip Buys het eenkeer vir my gesê ‘n volk is net ‘n generasie diep. In Suid-Afrika het een generasie reeds verval. Ons het mense in plakkerskampe wat opgegee het. Daarom begin ons by die kinders. Ons wil hulle toerus en hoop gee.”
Van der Walt voeg by dat dit nie net kinders in plakkerskampe is wat hulp nodig het nie, maar dat Suid-Afrika se Afrikaanssprekende middelklas ook deesdae swaarkry. Partykeer het ‘n gewone huishouding net ‘n slegte maand en dan kan ouers nie bekostig om ‘n kind op ‘n rugby of netbaltoer te laat gaan nie. Ons wil daar wees vir daardie kind en dit vir hom of haar moontlik maak om te gaan sodat hulle positief sal bly en die lewe vierkantig in die oë sal kyk.”
Van der Walt het gesê hoewel Helpende Hand nie net blankes of Afrikaners help nie, beywer die organisasie hom tog vir die by-
staan van mense wat nie deur Swart Ekonomiese Bemagtiging bevoordeel word nie.
Sy het ook verduidelik dat die organisasie probeer om nie by te dra tot die reeds groot fondsinsamelingsdruk op dorpe nie. “Daarom is die Noodforum se werkskeppingsprojek so belangrik. As ons ons behoeftiges kan kry om weer vir hulself te sorg, verlig ons al daardie welsynsdruk op ons kerke en organisasies soos die Noodforum.”
Die Noodforum se projek is Woensdagaand by die NG Hulp en Hoop gemeente bekendgestel. Voor die bekendstelling het die Noodforumbestuurder, Eulogia de Wet, vertel dat die hoofdoel van die projek gaan wees om mense vaardighede aan te leer wat hulle dan kan gebruik om allerhande items te vervaardig by ‘n sentrale ‘fabriek’ wat deur die Noodforum daargestel sal word. Hierdie items sal dan verkoop word om vir die lede van die projek ‘n inkomste te bied. Noordelike Nuus sal volgende week meer breedvoerig oor die projek verslag lewer.
Om vir die projek te stem kan lede van die publiek die woorde ‘Projek Noodforum’ na 34388 SMS. Vir 50 SMS’e word R3000 aan die projek uitbetaal en vandaar word die uitbetalings op ‘n glyskaal al groter per SMS. Vir meer as 200 word daar R30 000 uitbetaal en vir 500 of meer R45 000.
Om ‘n SMS te stuur kos net R2,00. Die Noodforum het ‘n beroep op alle inwoners gedoen om hierdie projek te ondersteun met hul selfone. Elke selnommer kan net eenkeer stem.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube