-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
‘n Trop van 15 wildehonde wat onlangs op ‘n privaat wildplaas net buite Lephalale gevang en in ‘n 10ha roofdierkamp aangehou is, het ‘n hewige debat ontketen oor wat met dié diere - tans die mees
bedreigde karnivoor in Suid-Afrika -gemaak moet word.
Die trop wildehonde is op 14 Maart op die plaas Shayamanzi, sowat 40km buite Lephalale, opgemerk nadat hulle ‘n rooibok platgetrek het. Personeel het die karkas verskuif deur dit met ‘n tou weg te sleep. Die trop het egter die karkas gevolg en was nie sku vir mens of voertuig nie. Die eienaar van die plaas, Jannie Parsons, was besorg oor die veiligheid van sy werkers en die moontlikheid dat die wildehonde elders geskiet sal word. Hy het glo dáárom besluit om die trop in een van sy 10ha kampe aan te hou.
Shayamanzi is ‘n luiperd bewaring fasiliteit en Parsons, wat gereeld nou saam met natuurbewaring werk, het die department van omgewingsake en die Endangered Wildlife Trust (EWT) geskakel. ‘n Ondersoek is geloods om te bepaal wat met die diere sal gebeur.
Volgens ‘n verteenwoordiger van die provinsiale department van omgewingsake is die department besig om verskeie opsies te oorweeg. “Ons het die verslag wat deur EWT opgestel is na ons ekoloë gestuur om te bepaal wat ekologies die beste besluit sal wees. Intussen het die department ‘n mondelingse ooreenkoms met SANParke om moontlik van die diere in een van hul parke te hervestig.
Volgens Parsons is daar aan die einde van Januarie drie wildehonde op die Beauty-pad doodgery. Hy noem ook dat daar tussen 14 Maart en 8 April nog vyf wildehonde en later ook 'n trop van sowat 15 wildehonde Shayamanzi besoek het.
Agri-Lephalale het namens boere in die omgewing ‘n versoek gerig dat die honde meer as 200km van Lephalale losgelaat word, omdat die wilde honde tot groot verliese vir wild- en veeboere kan lei. Voorsitter van Agri-Lephalale, Francois van den Berg, meen dat daar baie meer wildehonde is as wat aanvanklik vermoed is. “Dit is goed en wel as daar vier of vyf wildehonde oor jou plaas loop, maar ‘n trop van 15 kan groot skade aanrig. Boere wat byvoorbeeld met skaars wildspesies boer se verliese sal veral baie groot wees. Dus versoek ons dat die honde vrygelaat word in ‘n gebied waar daar nie wild- en vee boerderye is nie. Natuurlik wil ons nie sien dat die diere uitgeroei word nie, en daarom is dit belangrik dat daar ‘n wen-wen oplossing gevind word,” sê van den Berg.
Deon Cilliers, 'n lid van die Wild Dog Advisory Group of South Africa, sê wildehonde word al vir jare in die Waterbergomgewing gemonitor. Die Waterberg trop is nie verwant aan enige ander trop in Suid-Afrika nie, en is baie belangrik as dit kom by die bewa-ring van die spesie. Hy sê die wildehonde is gevestig in die Waterberge omdat “grond-eienaars goed na hul grond en die natuur omsien.”
Hy sê hy verstaan egter boere se bekommernis. “As daar meer as 15 wilde honde op my wildsplaas geloop het sou ek ook bekommerd gewees het. Na my mening moet die trop en enige van die ander troppe in die gebied opgedeel word in kleiner groepe en dan gemonitor word. My voorstel is dat net ‘n derde van die wildehonde wat tans by Shayamanzi is in die gebied losgelaat word. Die res moet na ander bewaringsgebiede
verskuif word. Daar moet ‘n balans wees
tussen natuurbewaring en die beskerming van vee en wild en hiervoor is daar nog gesprekvoe-ring nodig,” het hy gesê.
Boere wat wildehonde op hulle plase opmerk word gevra om die Agri-Lephalale kantoor te skakel by 014 763 1888.
0 Comments