-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die familie van Nathan Hogan, ‘n vierjarige seuntjie van Lephalale wat in Augustus verlede jaar gediagnoseer is met Neuroblastome, glo dat behandeling in die VSA moontlik sy enigste kans op oorlewing kan wees. Nathan is na twee en ‘n half maande se onsuksesvolle behandeling in Steve Biko hospitaal in Pretoria huis toe gestuur sonder enige hoop vir herstel.
Sy familie het egter geweier om tou op te gooi en het hom op ‘n suikerlose, alkaliese diet geplaas en verskeie natuurlike medisinale produkte probeer. Intussen het hulle
ernstige navorsing begin doen oor alternatiewe behandeling. Só het hulle afgekom op 'n spesialis in Indiana, VSA, wat kanker pasiënte met proton-bestraling behandel by die IU Proton Centre.
Nathan het verskeie gewasse agter sy hart, nek en baie naby aan sy rugstring wat gewone bestraling onmoontlik maak. Die proton bestraling (wat nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie) is uiters geskik vir pasiënte soos Nathan omdat dit minder skadelik vir organe soos die hart is.
Die familie is vasbeslote om alles in hulle vermoë te doen om Nathan te help in sy stryd teen kanker en is tans besig om fondse vir sy behandeling in die VSA in te samel.
Verskeie organisasies in Lephalale het van Nathan te hore gekom en beplan fondsinsameling aksies om die behandeling te befonds.
Die familie bedank die gemeenskap vir hulle hulp en ondersteuning. “Elke SMS, boodskap, donasie of sommer net oproep beteken so baie vir ons,” het hulle hierdie week aan Noordelike Nuus gesê.
Om die gesin te ondersteun besoek gerus die Facebook-blad Blou vir Nathan, of maak ‘n donasie deur die woord ‘Nathan’ te SMS na 48748 (koste is R10).
Sien ook advertensies elders in die week se uitgawe vir die spesiale fondsinsameling iniatiewe vir Nathan - ondersteun gerus die spesiale gholfdag asook die vlooimark.
0 Comments