-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die tienerseun wat daarvan verdink word dat hy die bejaarde Kiesling egpaar, Will (69) en Anje (66), op Swartwater vermoor het, het verlede Dinsdag in die Mokopane landdroshof gekies om nie aansoek te doen vir borg nie.
Hy het glo aan die hof gesê hy het nêrens om heen te gaan nie. Sy aansoek is agter geslote deure gehoor en die publiek is nie toegelaat nie.
Polisiewoordvoerder, Ronel Otto, sê die seun word by ‘n plek van veiligheid aangehou.
Die 16-jarige seun is vroeër vandeesmaand by sy voog se huis in Mosselbaai in hegtenis geneem nadat polisie die lyke van die Kieslings in hul huis op die plaas, Merebank, in die Swartwater-distrik gekry het. Anje is liggaam is in ‘n stoel in die sitkamer gevind, terwyl Will in die slaapkamer op sy bed aangetref is.
‘n Familielid het na die seun verwys as ‘n ‘probleemkind’ en aan die media genoem dat die kind na die Kieslings se plaas gestuur is om “sy kop skoon te kry.”
‘n Vriend van die familie het verlede week aan Noordelike Nuus gesê dit is nie waar dat die seun, wat tans die enigste verdagte in die moordsaak is, net tuisonderrig ontvang het soos in dagblaaie berig nie. Hy was vir ‘n paar jaar ingeskryf by een van die Bosveld-omgewing se bekende laerskole, maar het gesukkel om aan te pas vanweë omstandighede wat buite sy beheer was. Sy kinderlewe is glo gekenmerk deur emosionele swaarkry.
Die resultate van die nadoodse ondersoek is nog nie bekendgemaak nie.
Intussen het Anje se broer, Jan Schallies, sy misnoeë in ’n brief aan Noordelike Nuus uitgespreek met die optrede van die plaaslike polisie tydens die begrafnis van die Kiesling egpaar twee weke gelede. Volgens Schallies het die roudiens skaars begin in die Volle Evangelie Kerk in Mokopane, toe die voog van die tiener verdagte deur die polisie uit die kerk kom haal is om teenwoordig te wees vir die seun se hofverskyning.
0 Comments