<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Hanno doen dit weer

 
News : 01 May 2014 432 Viewed By Jasper Raats 0

Hanno van Rensburg van Authentic African Adventures in Baltimore is verlede naweek gekroon as Wildlife Ranching SA se wenner in die Groen Ekonomie-afdeling van die Wildboer van die Jaar toekennings vir 2013.
Van Rensburg is ook vereer as finalis in die Wildboer van die Jaar kompetisie. Die wenner van hierdie kompetisie was ook hierdie jaar ‘n Bosvelder, Mev. Ellalien Davey van Romaco Ranch by Mookgophong.
Maar met ‘n string toekennings agter sy naam vir die laaste ses maande het dié oud leerder van Hoërskool Piet Potgieter en eertydse hoofseun van Potgie-tersrus Laerskool baie om oor te glimlag. Hy het selfs verlede week op die blaaie van Landbou Weekblad gepryk.
Dit is sy fokus op bewaring van die ekologie, sy toewyding tot die bemagtiging van sy personeel en byna obsessiewe versorging van sy diere se genetiese gesondheid wat die groen ekonomie toekenning aan hom verseker het.
Hy boer op die plaas Cosmopolite naby Baltimore in Limpopo waar hy met skaars wild teel en waar hy bekendheid verwerf het onder Amerikaanse jagters op soek na ‘n jagervaring in wilde, donker Afrika.
Van Rensburg het sewe professionele jagters voltyds in sy diens asook plaasbestuurders, ‘n veeartsenykundige assistent en ‘n span werkers wat omsien na die huishoudelike take van etes voorberei tot trofeë slag en sout.
Om hierdie span mense bymekaar te kry het hy by die oorspronklike plaaswerkers begin. Die mans is almal opgelei en gekwalifiseer as professionele jagters en die vrouens in verskillende aspekte van die gasvryheidsbedryf. Eers toe het hy mense van buite af in diens begin neem.
Baie van hierdie mense het nog vir my pa gewerk,” sê hy.
Johan van Rensburg het darem sy seun se sukses met die wildboerdery gesien voordat hy en sy vrou, Gloudien, aan die begin van verlede jaar deur plaas rowers oorval en vermoor is.
Van al die uitdagings wat jag en boerdery in Suid-Afrika bied, was sy ouers se dood vir Hanno dalk die moeilikste ding om te oorbrug en te verwerk. “’n Mens is hartseer en kwaad gelyk. Maar ek moes baie vinnig besluit hoe ek vorentoe gaan, of ek in Suid-Afrika wou voortgaan,” vertel Hanno.
Hy het diep besin en nugter oor alles gedink toe hy tot die slotsom gekom het dat Suid-Afrika alles ten spyt, steeds die beste land in die wêreld is om in die wildbedryf te wees.
“Botswana laat nie meer jag toe nie, stropers is besig om Zimbabwe se wild uit te roei, Zambië is toe vir jagters en Mozambiek sukkel tans met politieke onstabiliteit. Daar is ander lande wat die potensiaal het om puik jagbestemmings te wees, maar met die uitsondering van Namibië maak die gebrek aan infrastruktuur in ander jagbestemmings in Afrika dit net te duur vir die meeste Europese en Amerikaanse jagters.
Hanno het besluit hy gaan nie toelaat dat die onbesonne daad van vier gewetenlose misdadigers hom en sy kinders van hul familiegrond en vaderland beroof nie. “Ten spyte van wat gebeur het, sien ek ons toekoms hier en nêrens anders nie.”
Sy liefde vir die jagveld strek oor sy hele 40-jaar leeftyd en hy het reeds in die middel 90’s as professionele jagter gekwalifiseer en op vryskutbasis met buitelanders in die Bosveld gejag.
Eers nadat die lewe met hom ‘n paar wye draaie gemaak het, het hy so vyf jaar gelede sy volle gewig agter Authentic African Adventures, gegooi.
“Ek is in 2009 vir die eerste keer Amerika toe om kliënte by jag en buitelewe skoue te gaan werf om op ons plaas te kom jag,” vertel hy in Landbou Weekblad. Daardie jaar het hy twee kliënte uit die VSA gehad wat saam $4000 op vlaktewild jagte by hom spandeer het. Dit nadat hy meer as R70 000 spandeer het om in Amerika te gaan skou.
Maar daardie twee kliente was beïndruk met die ervaring wat Hanno en sy vrou, Bardina, aan hulle verkoop het en veral met die kwaliteit van trofeëdiere wat hulle tydens hul safari gejag en gesien het.
Die volgende jaar het hy 11 kliënte gehad en die jaar daarna 84. In 2012 het hy 132 Amerikaanse en Kanadese jagters op sy plaas akkommodeer en sedertdien het hy elke dag van die jagseisoen jagters uit die buiteland op sy plaas.
Aanvanklik het dit moeilik gegaan, sê Van Rensburg. “Ek het te veel geskou en al my geld en energie in bemarking belê.” Hy onthou hoe hy op lughawens geslaap het omdat hy nie geld gehad het vir hotelkamers nie.
“My vriende en mede-jagters uit Suid-Afrika het vir my kos gekoop, want ek het die depositos wat jagters my betaal het vir hul besprekings dadelik gebruik om te betaal vir die volgende skou se stalletjie.”
Nou weet hy van beter en hoewel hy tussen
R600 000 en R700 000 per jaar aan bemarking spandeer, kies hy die skoue waar hy homself bemark meer oordeelkundig. Hy het ook intussen ‘n
besprekingsagent in die VSA aangestel waardeur sy kliënte nou hul jagte kan bespreek.
‘n Ander been waarop sy jagsuskses rus is sy bereidwilligheid om sakpas safaris vir sy buitelandse kliënte aanmekaar te slaan. “Die meerderheid van my kliënte is gewone ouens - polisiemanne, treindrywers en so aan. Ek probeer om ‘n safari moontlik te maak vir enige ou wat ‘n droom het om in Afrika te kom jag binne daarie ou se begroting. Ek bied aan Amerikanes pakette van so min as US$2000 en ek gee vir daai jagter net soveel ‘n Afrika jagervaring as wat ek vir die jagter wat die groot vyf kom jag bied.”
Daar is nie ‘n manier waarop mens ‘n besigheid soos Authentic African Adventures kan bou uit biltongjag nie,” sê hy.
“Ons verkoop meer as net karkaste vir biltong, ons verkoop ‘n jagervaring, ‘n diens wat alles van etes en skemerkelkies tot trofee voorbereiding en die was van gaste se klere insluit. Dit is nie dienste waarvoor die gemiddelde Suid-Afrikaanse biltongjagter wil betaal nie. Vir ons Suid-Afrikaners is dit nie snaaks om ‘n rooibok, vlakvark en wildebees te jag nie en ons wil nie R20 000 vir die ervaring betaal nie.”

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube